Skip to content
Menu

1 Korinthiërs 3:9-17
2 Johannes 1

‘Let daarop dat julle nie verloor wat ons deur harde werk verkry het nie, maar eerder ‘n volle loon ontvang.’

Volhard in die geloof in Jesus Christus

Ons is op pad saam met die Here. Dag in en dag uit wandel ons saam met Hom. Dit is nogal ’n mooi beeld. Om saam met God te wandel. So rustig en vredig. Dit lyk so eenvoudig om in waarheid en liefde te leef. Maar in die praktyk is die nie so eenvoudig nie. Om volgens sy beginsels te leef is nie maklik nie. In ‘n gebroke wêreld vol sonde is dit ’n stryd om saam met God te leef. Want hoekom is daar soveel pyn, hartseer, beproewings en soveel ander dinge in ’n kind van die Here se lewe? Dit pas mos nie daarby nie? Johannes bring ons tot die insig, dat die duiwel deur die sonde, ons van die pad probeer aftrek. Dit doen hy deur verleiers en die antichris. Hulle kruis ons paaie, hulle maak die lewe vir ons moeilik. Teen hulle hou ons stand. Ons as kinders van die Here sit sy stryd voort. Ten alle koste bly ons op die weg, Jesus Christus.

Wees op julle hoede

Johannes waarsku ons in sy brief vir die antichris. Reeds voorheen is al gesê dat hulle sou kom. Jesus sê dit in Markus 13:22 – ‘Want daar sal valse christusse  en valse profete opstaan, en hulle sal tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.’ Hulle sal probeer om ons van die Here af weg te trek. Die antichris is hulle wat sê dat Christus nie regtig mens was nie. Hulle glo nie Hy is die Verlosser nie. Vandag is daar baie antichriste. Vir hulle waak ons.

Want ons het baie om te verloor

Die rede hoekom ons moet waak is omdat ons baie het om te verloor. Gered deur Christus leef ons ’n dankbaarheidslewe. Hier op die aarde is ons nou al besig met koninkrykswerk. Dit wat ons hier doen, gaan met ons saam tot in ewigheid. Paulus beskryf dit in 1 Korinthiërs 3 so mooi. Ons is medewerkers van God. Ons is die gebou. God gee vir ons ’n fondament – Jesus Christus. Op basis van sy verlossing, kan ons goeie werke hier op die aarde doen. Dit doen ons uit dankbaarheid. Die lewe wat ons leef getuig van die goedheid van God. Dit word geken deur goeie werke wat verrig word. Dit kan ’n christen verloor. Slegte mense kan dit wat goed is in jou lewe wegvat.

Sodat ons die volle loon ontvang

As jy dit so hoor, dan klink dit amper of dit jou eie verantwoordelikheid is om ’n loon te verwerf. Oor watter loon word hier nou gepraat? Ons is nou al besig met ons koninkrykswerk. Hiermee hou ons vol  tot die einde toe. In die geloof volhard ons tot die eindpunt. Die volle loon is om ’n lewe te leef wat geheel en al van God getuig, om in die geloof te sterf en saam met Hom in ewigheid te leef.