Posted by Admin

Die regstreekse uitsending is hier beskikbaar.

Skriflesing: Openbaring 22:6-21       Belydenis: Sondag 19 v&a 52       Teks: Openbaring 22:20           Sing: Ps 118-1:11,12; Sb 5-4:1,2,3,4; Sb 5-4:5,6; Ps 48-1:4,5.

‘Hy wat hierdie dinge getuig, sê: “Ja, Ek kom gou!” Amen! Kom, Here Jesus!’

DIE WEDERKOMS VAN JESUS CHRISTUS

Wat is jou toekomsverwagting? Wat hou die toekoms vir jou in? Ons almal wat vandag hier is, leef waarskynlik nie meer oor honderd jaar nie. Oor honderd jaar rus die meeste van ons se liggame in hulle grafte. Die volgende eeuwisseling 2100 sal min van ons mee maak. Miskien van ons kinders. Dit is vreemd om so ver vooruit te dink. Oor jou toekoms. Wat met jou eendag gaan gebeur. Nie iemand wat jy ken nie, nie ’n ou familielid nie, jy wat vanaand hier sit. Wat hou die toekoms vir jou in? Kyk jy na die toekomsmoontlikhede van die aarde, die plek waar ons leef, ons habitat, dan sien jy dit is beperk. Die mens sal nie vir ewig op hierdie aarde kan voortbestaan nie. Die son kan nie eindeloos lig gee nie. Êrens gaan hy uitbrand. Aan al die ryk stowwe in die aarde is ’n grens. Op ’n dag sal al die goud, yster en minerale opgedelf wees. En dan praat ons nog nie eers van kernwapens en die beskadiging van die natuur deur die mens nie. Menslik is daar min toekomsperspektief. Die prentjie lyk maar donker. Sonder God – tevergeefs. Maar die evangelie sit vol toekomsperspektief.

Die aankondiging van sy wederkoms

Jesus Reeds in die Ou Testament word die wederkoms van Jesus Christus aangekondig. Op verskeie plekke word daar gepraat van ‘die dag van die HERE’. Die profete kondig aan dat dit ’n dag van groot oordeel sal wees. Vir die goddelose sal daar geen genade meer wees nie. In die hemel sal die leeu en die lam saam wei. Die hele Bybel getuig van Jesus Christus se wederkoms.

Die troos van sy wederkoms

Die wederkoms bied troos vir mense in nood. In alle droefheid en vervolging weet christene Jesus kom weer. Ons weet dat ons eendag in volmaaktheid saam met Hom sal leef. Die rede – Hy tree vir ons in, in die hemelse hof. Op die dag van die eindoordeel het ons ’n advokaat wat ons saak opneem. Ons oordeel is onskuldig, omdat Jesus vir ons skuld betaal het.

Die tyd van sy wederkoms

Baie geestelike leiers het deur die eeue heen die wederkoms aangekondig. Op vreemde maniere probeer hulle die dag van die wederkoms voorspel. Dit is nie moontlik nie. Jesus Christus sal kom soos ’n dief in die nag. Niemand weet wanneer Hy kom nie. Die tekens van die tye beteken ook nie dat Hy nou gaan kom nie, maar dit is ’n bewys dat Hy sal kom.