Lukas 6:20-42
‘Hy het ook ‘n gelykenis vir hulle vertel: “Een blinde kan tog nie ‘n ander blinde rondlei nie? Sal hulle dan nie albei in ‘n sloot val nie? ‘n Dissipel is nie belangriker as sy leermeester nie; maar as hy sy opleiding voltooi het, sal hy sy leermeester se gelyke wees.’
Oog vir Christus, oog vir mekaar
Moenie oordeel nie. In Lukas 6 hoor ons hierdie woorde. Dit binne die konteks van ‘n verkorte weergawe van die bergpredikasie. ‘n Deel hiervan het ons saam gelees. Die mense het van oraloor gekom om na Jesus te luister. Dit in ‘n tyd wat die meeste opgekyk het na die Skrifgeleerdes en Fariseërs. Hulle was die mense van aansien. Hulle leef so heilig, jy sal nie sommer een van hulle betrap, dat hy iets verkeerd doen nie. Maar Jesus skuif hulle aan die kant. Deur hulle blindheid, proe hulle nie eers van die nuwe wyn, Jesus Christus, wat voor hulle staan nie. Hulle dink hulle het Hom nie nodig nie, hulle kom reg deur hulle onderhouding van die wet. Jesus skuif hulle aan die kant. In Mattheus 5:20 sê Hy – ‘as julle geregtigheid nie aansienlik meer is as die van die skrifkenners en die Fariseërs nie, sal julle beslis nie die koninkryk van die hemele binnegaan nie.’ Die lewens van die Fariseërs is nie goed genoeg nie. As dit so is, wanneer is dit wel goed genoeg? In sy prediking lê Jesus die lat hoog. Om die rede gee Hy die waarskuwing oor oordeel en die gelykenis daarmee saam. Die gevaar dreig, dat ons mekaar aanvat as ons nie hieraan voldoen nie. Ons meet en oordeel mekaar. Oordele is nie vir ons vreemd nie. Jesus bring ons hier by ‘n belangrike saak. Wat moet jy doen as jy sien dat iemand anders sondig? Foute maak? Jesus begin met: ‘Moenie oordeel nie.’
‘n Blinde kan ‘n blinde nie lei nie
‘Haal eers die balk uit jou eie oog…’ Dit is die vertrekpunt. Hiermee raak Jesus iets baie belangrik aan. Hy maak ons baie bewus van wie ons is. Elkeen van ons is sondige mense. Die ou ek is daar. En daarom: wees eerlik met jouself. As jy met iemand anders praat, weet dat jy ‘n kind van die Here is, wat leef vanuit die verlossing van Jesus Christus. Bewus van jou eie gebreke, kyk jy anders na ander mense. Haal uit die balk. Anders is jy deur die sonde blind vir die genade van die Here.
‘n Leerling kan leer
‘…dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog te haal.’ ‘n Leerling kan leer om goed te sien. Dit gebeur deur die genade van die Here. Dit behels dat jy besef jy leef saam met God. Jou Vader het jou onvoorwaardelik lief. As jy vanuit die liefde leef, en iemand anders ook so liefhet, dan kan jy leer hoe om saam die stryd teen die sonde aan te gaan. Dan sal jou oë oop wees, en in liefde sal jy die splinter uit jou broer se oog kan haal.
In navolging van die Leermeester
‘…maar as hy sy opleiding voltooi het, sal hy sy leermeester se gelyke wees.’ In navolging van Christus leef ons. Hy het vir ons aangetoon hoe die lewe van ‘n kind van die Vader lyk. Hiervoor ywer ons onsself. Biddend en soekend na wysheid en duidelikheid om nader aan Christus te leef.