Romeine 10:5-21
Eksodus 20:4-6
HK Sondag 35
‘Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is ‘n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.’
Ons diens aan die Almagtige God
In Johannesburg is daar ’n Mosaïek gemeente. Miskien het jy al van hulle gehoor. Hulle noem hulleself ’n geloofsgemeenskap van liefde en hoop. ’n Oop gemeenskap waar almal welkom is. ‘n Tyd gelede het hulle ’n byeenkoms gehad, met die tema geloofsdiversiteit. Mense van verskillende gelowe was hierby betrek. Daar was iemand vanuit die Afrika godsdiens, ’n Hindoe, ’n Moslem, ’n Boeddhis en ’n Christen. Elkeen het die geleentheid gekry om te vertel wie God is, en vervolgens mog hulle iets vir die christene sê. Interessant was dat elke geloof uitkom by God die Skepper. Almal glo daar is ’n skepper. ’n Wese wat aanbid moet word. Soos wat ’n sonneblom na die son toe draai. So draai die mens na die lig toe. En die boodskap aan christene is dat ons tolerant moet wees. Ons moet nie sê ons het die enige ware geloof nie. Dit maak nie saak hoe jy die Here dien nie, solank jy net op ’n manier in verhouding in rus en vrede met God leef. Die hele gesprek laat gaan by my alarms af. Dit is gevaarlike terrein. Want die christelike geloof hoort nie by die rye van godsdienste nie. Dit is nie maar net ook ’n manier om die Here te dien nie. Nee, dit is die enigste manier. Die Here is die enigste ware God. En Hy sê vir ons in sy Woord Hy is ’n jaloerse God. Hy gee nie ruimte vir ander gelowe nie. Natuurlik sal mense besef daar is ’n God, maar daar is net een manier om Hom te dien, net een manier om Hom te ken. Dit sê die Here vir ons in sy tweede gebod. In die eerste gebod sê die Here vir ons Wie ons moet dien. In die tweede gebod hoe ons Hom moet dien. Dit is vir Hom uiters belangrik. Daar is net een Weg en dit is deur die Woord Jesus Christus.
Wat is beeldediens?
eeldediens is om kontak met die Here te wil maak, maar nie op die regte manier nie. Die Israeliete het ’n aantal kere probeer om die Here op die verkeerde manier te dien. So het hulle ’n goue kalf gemaak, die ark saamgevat oorlog toe en goue beelde opgerig. Die beelde was nie die Here nie, maar deur die beelde het hulle probeer om die Here te dien.
Hoekom verbied die Here die maak van beelde?
Vir ons is dit onmoontlik om die Here in ’n beeld vas te vang. Dit doen direk onreg aan sy almag. Deur ons menslike beelde maak ons van God iets menslik. Dit is vir God onaanvaarbaar. Hy as die almagtige God is alomteenwoordig, onsigbaar met nog baie meer eienskappe.
Hoe wil God gedien word?
Die Here toon duidelik aan hoe Hy gedien wil word. Deur die Woord. Die onsigbare God wil met woorde en dade gedien word. ’n Godsdiens nie van beelde nie, maar ’n erediens van die hart.