Rut 1
‘Maar Rut het geantwoord: Moet my nie probeer dwing om u te verlaat nie of om van u af weg te gaan nie, want waar u gaan, sal ek gaan, en waar u bly, sal ek bly. U volk is my volk, u God is my God. Waar u sterf, sal ek sterf, en daar sal ek begrawe word. Die Here kan my maar swaar straf as ek nie woord hou nie: Net die dood sal ons skei.’
U volk is my volk, en u God is my God
Die boek Rut speel af in die tydperk van die Rigters. Daar was nie ’n koning in die land nie. Elkeen het gedoen wat goed was in sy eie oë. In hierdie tyd is die Here besig met sy Raadsplan. Uit hierdie volk moet sy Seun Jesus Christus gebore word. Rut is deel hiervan. Al is sy van oorsprong nie ’n Israeliet nie, word sy deur die Almagtige God in die heilsgeskiedenis ingelyf. Rut die Moabietese word deel van die volk van God. Sy word selfs deel van die stamregister van ons Here Jesus. ‘Die geslagsregister van Jesus Christus – en Boas die vader van Obed by Rut, en Obed die vader van Isai, en Isai die vader van koning Dawid.’ (Mattheus 1:5) Rut die ouma van koning Dawid. Sy word deur die Here ingelyf in die verbond. In Rut 1 sien ons hoe dit gebeur. Tussen al die eiewilligheid en bitterheid, werk die Here ’n ware geloof in die hart van ’n jong vrou.
Die eiewillige vertrek van Elimeleg
Daar is droogte in Israel. Elimeleg verootmoedig hom nie voor God en smeek vir sy genade nie. Nee eiewillig probeer hy die Here se hand ontvlug. Hy dwaal van die Here af weg en vestig homself in Moab. Daar bring hy sy twee seuns in die versoeking om met heidense vrouens te trou. So gebeur dit. Elimeleg wat beteken my God is Koning sterf saam met sy twee seuns in ’n vreemde land.
Die bitterheid van Naomi
Naomi is verbitterd. Haar man en seuns is dood. Sy het nie ’n nageslag nie, net twee skoondogters. Sy keer terug na Betlehem. Daar vertel sy vir die mense dat hulle haar nie meer Naomi (lieflikheid) moet noem nie, maar Mara (bitterheid). Sy sê: die Almagtige het my baie bitterheid aangedoen. Binne al haar hartseer en ongeluk sien sy nie hoe die Here haar seën met Rut nie. Sy keer terug met ’n skoondogter uit wie die Verlosser gebore sal word.
Die ware geloof van Rut
In Rut se hart het die Here ’n ware geloof gewerk. In sy raad het die Here dit so bestem, dat hierdie vrou uit die huis van Moab deel sal vorm van die geslagsregister van Jesus Christus. Deur die geloof word sy in die volk van God ingelyf. Kragtig bely sy dit – u volk is my volk, en u God is my God. ’n Belydenis van die geloof. Vandag vir die kerk van Christus aangrypend. Want uit alle volke bely ons met een mond – Ons glo in Jesus Christus, ons is deel van sy liggaam, ons is vandag saam met al ons medegelowiges regoor die wêreld volk van God.