Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.
Skriflesing: Daniël 7:1-28 Fokusverse: Daniël 7:13-14 Sing: Psalm 47-1:2,3,4; Psalm 38-1:1,3,15; Psalm 33-1:5,6,7; Psalm 97-1:1,4,5; Psalm 93-1:1,2,3,4.
Die Seun van die Mens heers vir ewig!
Die volk van die Here sit in die Babiloniese ballingskap. Op die oog af lyk sake vir die vervulling van die Here se raad baie donker. Die nageslag van die slang blyk op die punt te wees om die vrou se saad te verswelg. In sulke omstandighede ontvang Daniël ’n gesig.
Die wêreldryke van die tyd
Die Joodse ballinge, hulle wat die Here ken, is in die magtige Babiloniese ryk maar ’n klein minderheid. Vir die erediens en kerk van God is die omstandighede lewensbedreigend. Wêreldryke is deur die loop van die geskiedenis vir die kerk ’n bedreiging. Daniël sien in sy gesig hoe die een wêreldryk na die ander in die vorm van ’n dier uit die see opkom. Hulle volg mekaar as tiranne op. In die geskiedenis het dit ook so gebeur. Eers Babel, toe Persië, Griekeland en Rome. Die laaste dier is besonder skrikwekkend en tree in blatante opstand op teen God se volk. Maar wanneer die Oue van dae op die regterstoel gaan sit, is die dae van die tirannemag getel, letterlik. Die geweldige opstand van die laaste dier word verpletter. Die ander verloor hul heerskappy. Hulle lewe word deur die Here se almag beperk. So is dit met alle wêreldryke. Hulle heerskappy is tydelik. Maar dit word hulle uiteindelik ontneem deur die Here se oordele.
Die Koninkryk van die ewigheid
In die wolke kom die Seun van die mens, Jesus Christus op die toneel te voorskyn. In geweldige heerlikheid kom staan Hy voor God se troon. As mens ontvang Hy dan heerskappy tot in ewigheid. Hy ontvang ’n koninkryk wat nie deur die tyd sal vergaan nie. Dis ’n koninkryk wat nie deur vyande vernietig sal word nie. Die rede daarvoor, die Seun van die mens het reeds oorwin. Christus het aan die greep wat Satan en sy pionne op die aarde gehad het ’n einde gemaak. Dit het gebeur deur sy dood en opstanding. Die slawerny aan tiranneheerskappy is in Jesus se kruisdood tot ’n einde gebring. In Hom is ons van die sonde bevry. Selfs dit wat ons aan die gang van die tyd sou oorlaat is oorwin, naamlik die dood. Christus is daarvoor heerskappy en mag gegee oor alle dinge. Hy is as mens, maar ook as verteenwoordiger van die nuwe mensheid deur God self gekroon tot Hoof van alle dinge. Dit is Hy vir ewig. Die vraag waarvoor ieder en elk te staan kom: Van watter ryk is jy onderdaan? Daar is immers steeds wêreldryke wat in die tyd vernietig sal word. Selfs die Antichris sal uiteindelik nie voor die Koning van alle konings stand hou nie. As jy in Christus glo is jy met Hom verenig in sy oorwinning. As jy in Hom nie glo nie, gaan jy saam met sy vyande deur Hom oorwin word. Gryp daarom in geloof vas aan Hom wat kom op die wolke!