Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.
Lees: Filémon 1:1-25 Fokusverse: Filémon 1:15-16 Sing: Psalm 107-1:1,9,20; Psalm 139-1:3,4,5; Psalm 139-1:3,4,5; Psalm 139-1:3,4,5.
In Christus ontvang ons mekaar vir ewig!
In ons Skrifgedeelte vind ons ’n baie unieke pleitrede van Paulus. Hy pleit by ’n man genaamd Filémon. En hy doen dit namens ’n slaaf, Onésimus. Tussen hierdie twee manne is tans verwydering. Ons sien dan hoe hulle onder die pleitdooi van Paulus in Christus verenig is tot vernuwing.
Vereniging in Christus
Onésimus en Filémon se verwydering was in daardie tyd ’n baie gewigtige saak. Filémon was ’n gelowige in Kolosse. Onésimus was sy slaaf. Filémon het onder die prediking van Paulus tot bekering gekom. Onésimus het van sy eienaar af weggevlug. Hy het klaarblyklik ook by Filémon gesteel. Alhoewel hy sodoende ook van sy kontak met die kerk van Christus af weggevlug het, het God Hom deur Onésimus laat vind. Op ’n manier het hierdie slaaf met Paulus in aanraking gekom. Deur die bediening van Paulus het hy dan ook tot bekering gekom. Daarom noem Paulus hom sy kind wat hy in sy boeie verwek het. Maar volgens wet moet die slaaf aan sy eienaar teruggestuur word. En sy eienaar kan hom ook volgens die wette van die Romeinse ryk straf. Maar Paulus wil vir Filémon lei om te bergyp wat die implikasies van Onésimus se bekering vir hulle verhouding is. Onésimus is nie meer maar net ’n slaaf nie. Hy is nou ’n broer van Paulus en Filémon. Hy is dit vir ewig. Hy wat die verskil maak is Jesus Chrisus, wat ook Heer is van Filémon.
Vernuwing in Christus
Filémon en Onésimus is in Christus verenig. Daarom is hulle verhouding met mekaar ook in Hom vernuwe. Die bande wat daar tussen hulle bestaan is veel meer as wat dit was. Hulle was vroëer maar net volksgenote wat in ’n werksverhouding met mekaar gestaan het. Nou is hulle familie vir ewig. Tussen hulle het Jesus gesterf en opgestaan dat die bande tussen hulle vernuwe mag word. So werk dit immers in die liggaam waarvan Jesus die hoof is. Hy verenig en vernuwe ons in Homself. Daarom is die bande wat ons met mekaar het ook van slawerny bevry. Ons is in Christus vry om ook die Here as broers en susters in die geloof te aanbid. Deur die Here se lotsverandering in ons lewe gee Hy ons aan mekaar. God het Hom nie net deur jou laat vind nie, maar ook deur jou medegelowiges. In daardie vertroue moet ons dan ten opsigte van mekaar leef. Daarom word ons as kerk op soveel plekke beveel om in vrede saam te leef, om die band van onderlinge liefde te versterk. In Christus het ons mekaar vir ewig ontvang.