Lukas 1:39-56
‘Maria het toe gesê: My siel loof die Here, my gees jubel oor God my Verlosser…’
DIE GEWELDIGE GOD WERK MET GEWONE MENSE
In die vierde eeu na Christus, het die kerkvader Augustinus, ‘n preek gehou aan die hand van Psalm 98. Dit wat ons aan die begin van die erediens saamgesing het. Aan die hand daarvan het hy die gemeente voor die Woord van die Here met die woorde geplaas: ‘Geliefdes, julle sing eintlik nie so mooi nie. Julle sing met julle monde, maar nie met julle siele nie. Julle maak baie geluid, maar julle lewens sing nie. Julle dink dat dit suiwer is, maar ek hoor die vals note. Komaan! Sing met jou stem, sing met jou hart! Sing met jou woorde, sing met jou dade! Moenie net ‘n nuwe lied sing nie, maar maak seker dat jy self daardie nuwe lied is, ‘n loflied tot God.’ Vandag het ons heelwat rede om te sing. ‘n Kindjie is gedoop. Ons mag ons aandag rig op die geboorte van ons Verlosser. En in die konteks sing ons vanoggend saam met Maria. ‘My siel loof die Here…’ Ons sing ‘n loflied waarin God groot gemaak word.
Die Almagtige doen groot dinge
Maria speel ‘n besondere rol in die heilsgeskiedenis. In ons geloofsbelydenis word haar naam eervol genoem – ‘gebore uit die maagd Maria.’ Op belangrike oomblikke in die lewe van Jesus is sy daar. By sy geboorte, sowel as by sy sterwe. ‘n Besondere roeping ontvang sy van God. Aan haar is bekend gemaak dat uit haar die Verlosser gebore sal word. Hieroor sing sy ‘n loflied. Die woord wat die engel Gabriel tot haar gespreek het, neem sy met ‘n gelowige hart aan. Sy bely – ‘Kyk, van nou af sal alle geslagte my gelukkig noem, want die Magtige het groot dinge vir my gedoen – ja, heilig is sy Naam.’
Sing met jou hart en jou lewe
Op heelwat plekke in die Bybel kry ons die opdrag om te sing. Die gedeeltes wat handel oor die geboorte van Jesus, is vol van lofliedere. Die een volg op die ander. Die engele sing, Maria sing, Sagaria sing. Alle eer word aan God gegee. In die lofsang van Maria hoor ons dit. God is die Magtige, die Heilige. Hy is vol ontferming en genade. ‘Hongeriges versadig Hy met goeie gawes, en rykes stuur Hy met leë hande weg.’ As jy die gedeeltes lees is dit opvallend om die herhalende volgorde te sien. Vanuit die hemel word iets geopenbaar en in antwoord word gesing. Voordat Maria sing, is sy deur die engel besoek. Daardeur sien sy haar swangerskap in ‘n ander lig. Sagaria sing sy lofsang, as hy die woorde van die engel glo. Hy sien God aan die werk. Simeon begin sing met die kindjie in sy arms. Die rede: God se Gees het aan hom getoon dat die kindjie die beloofde Redder was. Die Herders is so bly omdat ‘n engel gesê het: Vandag is die Redder gebore. Vandag sing ons saam. Die weg na die hemel is vir ons oop, deur ons Redder Jesus Christus. Van harte sing ons met hart en siel tot eer van God!