In Christus ons waarheid lê ons grootste vreugde!
Johannes het in sy eerste twee briewe heelwat dwalings in gemeentes aangespreek. Maar in die derde brief is dit nie die geval nie. Daar het in ’n gemeente ontstaan rondom die gedrag van ’n bepaalde lidmaat. Diotrefes het het sy mag in die gemeente misbruik om rondreisende sendelinge baie ongasvry te hanteer. Johannes skryf dan aan sy vriend Gajus oor die wyse waarop hy die saak in die gemeente moet aanspreek. Hy moet voortgaan daarin om gasvry te wees teenoor medegelowiges. Maar in die opening van die brief druk Johannes eers sy vreugde uit.
AANLEIDING TOT VREUGDE
Johannes is baie bly oor dit wat hy by herhaling van Gajus hoor. Daar is ’n getuienis aangaande Gajus wat heeltyd by die apostel uitkom. Dit gaan oor die wandel van Gajus. Keer op keer word van hom getuig dat hy in die waarheid wandel. Dit is die aanleiding tot Johannes se vreugde. Die lewe van Gajus stem ooreen met die waarheid wat hy bely. Hy dra met ander woorde nie net die Naam van iemand wat deur Jesus Christus verlos is nie. Hy leef in die waarheid. Hy wandel alleen op die pad wat Jesus beveel. Maar dit is nie alleen die aanleiding tot Johannes se vreugde gaan ook daaroor dat hy hierdie getuienis uit die mond van broeders kon hoor. Dit is die groot aanleiding tot vreugde. Dat daar in die liggaam van Christus gesamentlik aan die waarheid vasgehou word.
MATE VAN VREUGDE
Die vreugde wat Johannes in hierdie wandel en getuienis van Gajus het is nie maar een of ander alledaagse vreugde nie. Hy druk dit baie kragtig uit. Daar is vir hom geen groter vreugde as om die nuus te hoor wat hy by herhaling oor Gajus ontvang het nie. Trouens dit geld vir al sy kinders, met ander woorde al sy kinders in die geloof. Die grootste vreugde wat hy beleef is om te hoor dat hulle in die waarheid wandel. Daar is immers niks wat meer belangrik is vir hulle ewige saligheid nie. Soos wat die gelowiges in die waarheid wandel raak die egtheid van hulle geloof in Christus duidelik. Dit raak duidelik vir hulleself. Dit raak ook duidelik vir hulle medegelowiges. Daarin raak dit dan duidelik dat die gemeenskap van die gelowiges uiteindelik ’n saak van vreugde is. Dit is ’n vreugde vir God. Daar is by Hom blydskap wanneer sondaars hulle tot Christus bekeer. Daar moet ook in hierdie gemeenskap vir ons as kerk vreugde wees. Ons is daarin immers as broers en susters deur die geloof gesamentlik tot die ewige lewe bestem. Wat kan dan groter vreugde wees, as dat ons saam in die waarheid wandel.