Skip to content
Menu

Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.

Skriflesing: Jesaja 40:1 -11 en Johannes 1:19-28     Fokusverse: Jesaja 40: 3, Johannes 1:23       Sing: Ps. 108:1,2; Ps. 1:1,2; Ps. 80:1,10; Ps. 111:1,5; Ps. 91:1,6,8.

‘n Stem roep: “Maak in die woestyn die pad van die Here gereed; maak in die Araba ‘n grootpad vir ons God gelyk.”

‘Hy antwoord toe, Ek is die stem van een wat uitroep in die woestyn: Maak die pad van die Here reguit! – soos die profeet Jesaja gesê het.’

DIE ROEPENDE STEM VAN DIE HERE

Wie is ons God? Dit is ‘n vraag wat jou oorval, as jy meemaak hoe maklik ‘n ongeluk gebeur. In ‘n fraksie van ‘n sekonde kan jou hele lewe verander. Waar is God se beskerming? Wie is ons God?  ‘n Worsteling as jy bid en bid, maar nie beter word nie. Nie leiding kry in moeilike omstandighede nie. Nie weet of jy links of regs moet gaan nie. Wie is ons God? As jy na die wêreld kyk, kan jy nie by die vraag verby nie. ‘n Wêreld vol oorloë en pandemies. Met terreur en boosheid wat soveel ruimte kry. Waarom laat God dit toe? Wie is ons God? In Jesaja 40 hoor ons ‘n antwoord hierop: ‘Troos, troos my volk’ God is die God van troos. Lees jy die teks verder, verdiep jy jou daarin, dan word hierdie troos net ryker, dieper en stralender. Die Here spreek jou aan in hierdie gedeelte. En so lei Hy ons binne in die skatkamers van die geloof. Vanoggend mag ons hierna luister. In ‘n gebroke wêreld, getroos deur God, hoor ons die roepende stem van die Here.

Dit is verby

Jesaja leer ons om dit te sê. Dit is die boodskap wat Hy as profeet van die Here mag bring. Sê vir die volk – dit is verby. Troos my volk hiermee. Verby is die tyd van ballingskap. Die tyd wat Israel nie in hulle eie land mog woon nie, maar as vreemdelinge moes leef in die heidense Babel. Die tyd wat die tempeldiens nie in Jerusalem kon voortgaan nie.  Die tyd van geen offers, feeste en liedere. Dit is verby. Dit aan die buitekant. Lees jy dieper, dan sien jy – as God na jou toe kom is verby: die ellende, die eensaamheid, die afstand, die gebrokenheid. Die rede – God se oordeel is voltrek.

Want dit is voltooi

Vers 2 sê – ‘Roep haar toe dat haar gedwonge arbeid voltooi is, dat haar skuld afbetaal is!’ Dit wys na Jesus Christus. Dit is die Messias deur wie die profesie van Jesaja vervul word. Deur Hom word die tyd van lyding en skuld, die tyd van sonde en oordeel afgesluit. Omdat Hy die sonde op Hom geneem het. Omdat Hy die oordeel gedrag het. Omdat Hy aan die kruis uitgeroep het: ‘Dit is volbring!’

Maak jou gereed vir die Here

‘Maak in die woestyn die pad van die Here gereed; maak in die Araba ‘n grootpad vir ons God gelyk. Elke dal moet opgevul word, en elke berg en heuwel moet wegsak. Hobbelrige plekke moet gelyke grond word, en rotsagtige terrein moet ‘n vallei word…’ Johannes die Doper het van die koms van die Here getuig. Hy het mense gedoop wat hulle sondes bely het, mense wat gereed staan voor die Messias. Hier hoor ons van voorbereiding. Van gereed en paraat wees. So mag ons die stem van die Here hoor in 2024. Dit is verby, want dit is voltooi. Die Here roep ons na Hom. Staan gereed. Maak reg jou lewe, moenie verskonings uitdink vir jou tekortkominge nie, bekeer jou van jou verkeerde gewoontes, stop met jou selfgenoegsaamheid, eiebelang, altyd reg wil wees, en volg die stem van Hom wat roep.