Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.
Skriflesing: Sagaria 1:1-17 Fokusverse: 12 en 14 Sing: Psalm 47-1:1,3,4; Psalm 86-1:1,3,8; Psalm 73-1:5,7,10; Psalm 110-1:5,6,7; Psalm 34-1:2,3,4.
Christus bewerk vir ons God se ontferming!
In die tyd van die profeet Sagaria het die kerk van die Here ’n moeilike tyd beleef. Hulle het swaar gekry na die terugkeer uit die ballingskap. Hulle gemoed was swaar. Die heerlike beloftes wat die Here voor die ballingskap aangaande die herstel gemaak het, het gelyk of dit agterweë bly. Die volk het allermins soos gevolg van die Here se ontferming gelyk. In hierdie tyd roep die Here dan twee profete. Hy roep eers vir Haggai. Hy moet die volk aanspoor op die tempel van die Here te herbou. Die Here roep dan ook vir Sagaria. Hy moet die volk bemoedig met dit waarop die tempel eintlik wys. In die eerste deel van sy profesie word sy verskillende naggesigte weergegee. Ons bepaal ons dan by sy eerste naggesig.
Die Engel se uitroep
Sagaria sien ruiters op perde. Hulle het ’n opdrag ontvang om die aarde te deurkruis. Hulle moet kom verslag doen van wat hulle bevind het. En dan is dit opmerklik aan wie hulle kom verslag doen. Hulle kom doen verslag aan die Engel van die Here. Die Verbondsengel, wat aan die volk sedert die voortyd al die weë van die Here bekend gemaak het. En hulle verslag: Die aarde is stil en rustig. Die Engel roep dan tot die Here uit. Dit klink eintlik asof Hy verontwaardig is. Hy bring die Here se belofte van ontferming in herinnering. Hoe kan dit wees dat die nasies wat teen die Here in opstand is vrede beleef, terwyl die verbondsvolk ly. So tree die Engel as’t ware meelewend teenoor die volk op. Hulle angskrete word sy eie. So tree Christus ook vir ons in. Hy is die Engel van die Here se verbond. Maar, waar Hy hier op die Here se beloftes pleit, pleit Hy vir ons op grond van Homself, op grond van die wyse waarop Hy die beloftes vervul het. Sy intrede in die hemel is nog heerliker as in ons Skrifgedeelte. Daarom kan ons met vrymoedigheid na die Here se troon gaan in gebed. Ons kan dit doen in Jesus se Naam. Die vervulling van sy beloftes is reeds in die bloed van Christus gekoop. Sy ontferming is in ewigheid vir ons gekoop.
Die HERE se antwoord
Die Here antwoord op die pleitdooi. Hy rig sy antwoord aan die engel wat vir Sagaria deur die gesig lei. Goeie en troosvolle woorde word aan die engel meegedeel. En dan kom die engel met ’n opdrag aan Sagaria. Hy moet aan die volk verkondig dat die Here ywer oor Jerusalem en Sion. Die Here ywer oor dit wat Hy vir sy volk as aanbiddingsruimte gegee het. Hy tree met heilige jaloesie ten opsigte daarvan op. Dit beteken Hy tree aktief en beskermend daarteenoor op. Die implikasies daarvan is geweldig. Dit beteken dat sy ontferming vir sy volk ’n daadwerklike optrede inhou. Hy beveilig die verboondsgemeenskap met ’n heilige jaloesie. Hy beskerm dit soos ’n man sy vrou beskerm. Hy handhaaf die ekslusiwiteit daarvan. In Christus het ook dit vir ons ja en amen geword. In Christus is ook dit ons ewige erfdeel.