Posted by Admin

Die regtreekse uitsending kan hier gevolg word.

Skriflesing:  Judas 1         Fokusverse: 3-4           Sing: Psalm 118-1:4,5,6; Psalm 18-1:14,15,17; Psalm 4-1:1,2; Psalm 144-1:1,3,5.

Stry vir die oorgelewerde geloof!

Daar is ’n stryd waaraan die kerk van Christus gekenmerk word. En dit is aangaande hierdie stryd wat Judas sy kort brief skryf. Trouens, hy skryf die brief juis om bepaalde gelowiges te vermaan om hierdie strys met ywer te stry. Hy skrywe dit as dienskneg van Christus, alhoewel Hy Jesus se broer was. Hy vermaan die gemeente om te stry, ter wille van die gemeenskaplike saligheid. Hulle moet stry ter wille van dit wat die saligheid vir hulle as gemeente bevorder. Dit is dan uiteindelik ook ’n vermaning of aanmoediging wat die Heilige Gees aan ons rig. Daar is ’n stryd wat ter bevordering van die gemeenskaplike saligheid gestry moet word. Hierdie stryd het twee kante.

Waarvoor ons stry

Ons word in hierdie brief beveel om iets ten alle koste te beskerm. Ons moet bereid wees om daarvoor te stry, soos ’n stoeier wat al sy kragte inspan om te wen. Dit is die oorgelewerde geloof. Dit wat ons van die Here ontvang het in sy openbaring van Homself, is werd om voor te stry. Dit is werd om tot die dood toe voor te stry. Dit is immers die oorgelewerde geloof. Hierdie Skrifgedeelte verwys spesifiek na geloofsinhoud. Dit is natuurlik dit wat die Here deur Christus van Homself aan ons bekend gemaak het. Hierdie geloofsinhoud is dan oorgelewer aan die profete en apostels om dit aan ons te verkondig. Dit is iets waarvoor gestry moet word. Daarin is immers die beloftes wat die Here aan ons en ons kinders gemaak het opgesluit. Daarin is die belofte van die ewige lewe opgesluit. Om dus vir die suiwerheid daarvan te stry is bloot logies.

Waarteen ons stry

Wanneer daar van stryd gepraat word, dan is daar natuurlik iets of iemand teen wie gestry word. In die betrokke konteks was dit dwalinge wat in die gemeente ingesluip het. Hierdie dwalinge het ingehou dat die Here se genade as aanleiding tot sonde gebruik is. As die Here so oorvloedig genadig is, dan is ons mos vry om te doen wat ons wil, sou hulle redeneer. Maar Judas skrywe hierdie hele brief om by die gemeente die oortuiging in te skerp dat die Here se oordeel oor die sonde en die volharding daarin ’n werklikheid is. Sodom en Gomorra is daarvan ’n voorbeeld. Hierdie dwaling is dus iets waat teëgestaan moet word, ter wille van die gemeente se gemeenskaplike saligheid. As dit nie teëgestaan word nie, sal die gemeente in die gevolge van hulle sonde tot niet gaan. Wanneer jy immers soos hierdie dwaalleeraars redeneer, dan sê ons Skrifgedeelte jy verloën vir Christus. Hy is immers nie te vind in volgehoue losbandigheid nie. Hy is te vinde aan die kruis, waar Hy gesterf het vir ons volgehoue losbandigheid. Hy is te vinde in die opstandig, waardeur ons ’n nuwe lewe leef.