Skip to content
Menu

Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.

Lees: Lukas 8:4- 21         Teks: Lukas 8:21          Sing: Ps. 91-1:1,6,8; Sb. 12-3:1,2; Ps. 89-1:6; Ps. 84-1:1,2; Ps. 133-1:1,2; Sb. 2-7:1,2,3.

‘Maar Jesus antwoord hulle: “Wie na die woord van God luister en dit gehoorsaam, hulle is my moeder en my broers.”

BROERS EN SUSTERS IN JESUS CHRISTUS

Rondom ons Here Jesus staan ‘n klomp mense. Hy leer en onderrig hulle deur verhale, deur gelykenisse oor saaiers en lampe. Sy onderwys word onderbreek deur ‘n besoek van sy familie. Dan sê Hy iets aangrypend – ‘Wie na die woord van God luister en dit gehoorsaam, hulle is my moeder en my broers.’ Iets wat jy nogal graag sal wil hoor. Jesus wat sê, Ek noem jou: My broer, my suster, my moeder. Ons het dieselfde Vader. Julle vorm My familie. Ons het nie mekaar uitgesoek nie, maar vorm tog saam ‘n gesin. Die gesin/familie van God, rondom Jesus Christus. Vir ons vandag ‘n feit. Pragtig hoe die Here werk. Jesus maak van verskillende mense ‘n nuwe familie. Hy lê verbindings wat dieper gaan as bloedbande. Verhoudings wat by die dood nie stop nie.

Die mense rondom Jesus

Ons Here Jesus was deel van ‘n gesin gewees. Josef en Maria was sy ouers – sy pa en sy ma. Hy het broers en susters gehad. Ons ken van hulle selfs by die naam. In Markus 6:3 staan daar – ‘Is hy dan nie die skrynwerker, die seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie? Woon sy susters dan nie hier onder ons nie?’ Jesus het dus vir baie jare binne die konteks van ‘n gesin geleef. Hierin sien ons ook dat Hy ware mens is. Hy ken die gesinslewe van binne.  

Elkeen wat die wil van God doen

Op hierdie tydstip skep Jesus om Hom heen die een huisgesin van die Vader. Die samebindende faktor -Jesus sê dat dit die doen van die wil van die Vader is.  Wat bind ons saam vandag? Dat ons dieselfde standpunte deel? Dat ons lid is van dieselfde kerk? Dat ons dieselfde etiese keuses maak? Nee die doen van God se wil. Dit bind ons saam. Dan moet ons ‘n fyn onderskeid tref tussen die ken van God se wil en die doen van God se wil.

Broers en susters van Jesus

Goue woorde wat Jesus sê. Jy staan nie buite die kring nie, jy is daarbinne deur Jesus opgeneem. Dit is jou redding. Hiervoor het Jesus gekom. Om aan mense gelyk te word. Om hulle in die nuwe familie op te neem. In die kring van God se volk. In die gemeente van heiliges. ‘Jy is my broer, my suster – ‘n kind van die Vader. Uit die mond van ons Here Jesus. Dit is die evangelie in ‘n neutedop.