Skip to content
Menu

Lukas 22:31-34; 54-62

‘En hy het na buite gegaan en bitterlik begin huil.’

JESUS SE GEBED VIR GELOOFSVOLHARDING

Petrus het bitterlik gehuil.  As jy jou vir ‘n tydjie in die verhaal van Petrus inleef, dan besef jy dit is hartverskeurend hartseer wat hom oorkom. Dit oorkom hom werklik. Dit oorkom ons almal soms – dat jy keuses maak of dinge sê  waarvan jy later soveel spyt het. Petrus staan naby ons. ‘Here, ek is bereid om saam met U die tronk en die dood binne te gaan.’ Jy kan so vol selfvertroue wees, dat jy dit regtig glo.  Jammer genoeg is dit deel van ons lewe hier op die aarde. In die uur van nood sien ons dat ons Here Jesus Christus deur sy dissipels verraai, verlaat en verloën word. Selfs sy dissipels sal nie daar by Hom wees nie. In die optrede van Petrus is daar iets ondeurgrondelik. Soos ‘n vuurvlieg word hy na ‘n vuur toe getrek. Niemand dwing hom om te kom nie. Dit lyk asof hy nie daar kan wegkom, voordat hy sy Meester onder eed verloën nie. Petrus moes vir Jesus verloën. Dit is onderdeel van Christus se lyding. Die pad na die kruis is ‘n pad van eensaamheid.

Verlaat deur mense

‘Simon, Simon! Kyk, Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif.’ Hiermee toon Jesus aan dat sy leerlinge uitmekaar sal val, as Hy weggeneem word. Dit is immers Hy wat hulle saambind. Alleen sal die Herder neergevel word. Die dissipels, die skape sal struikel, hulle sal Hom in sy uur van nood in die steek laat. In eensaamheid sal hy die straf vir hulle hardnekkigheid dra. So sien ons dit ook gebeur. Na die onregverdige behandeling deur die Sanhedrin, volg die ontkenning, die verloëning deur Petrus.

Verloën deur Petrus

Petrus kry drie kanse om te laat sien hoe sterk sy geloof is. Drie kanse om te bely wat Paulus later bely ‘om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde.’ (Filippense 3:8) Maar drie keer verloën Petrus sy Here – en dan kraai die haan. Jesus draai Hom om. Ons het gelees – ‘Die Here het omgedraai en stip na Petrus gekyk,  en Petrus het die woorde van die Here onthou, dat Hy vir hom gesê het: “Voordat ‘n haan vandag kraai, sal jy My drie maal verloën.” (Lukas 22:61) Jesus kyk Petrus aan. Met ‘n gebed in sy hart. Kort hiervoor het Jesus gesê. ‘Maar Ek het vir jou (Petrus) gebid, sodat jou geloof nie sal wankel nie.’ (Lukas 22:32)

Vergewe deur Jesus Christus

Jesus kyk Petrus aan. Aangrypend wat hier gebeur.

Jesus is gereed om vir die sonde van die wêreld te ly en te sterf, maar op daardie oomblik is Hy nog steeds besig met Petrus. Petrus het Jesus drie keer verloën, maar Jesus verloën Petrus nie. As Jesus dit gedoen het, was dit klaar met Petrus. Maar Hy doen dit nie, want Hy het gekom vir vergewing. Ook vir Petrus.