Lees: 1 Thessalonisense 1:1-10
Teks: 1 Thessalonisense 1:1
Tema: ’n Gemeente in God en in Christus – Die ware identiteit van die kerk
Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.
Ons begin hierdie reeks uit 1 Thessalonisense deur stil te staan by Paulus se besondere aanhef in vers 1. Wat lyk soos ’n eenvoudige groet, dra ’n diep teologiese verklaring oor wie die kerk is: “aan die gemeente… in God die Vader en die Here Jesus Christus.” Hierdie brief, geskryf deur Paulus vanaf Korinte (ca. 49–51 n.C.), rig hom aan ’n jong gemeente wat onder druk verkeer: van vervolging, verwarring oor die wederkoms, en die dood van geliefde gelowiges. Tog begin Paulus nie met vermaning nie, maar met identiteit. Die gemeente is nie bloot ‘n sosiale organisasie nie, maar mense wat deur God geroep is. ‘n Heilige vergadering van uitverkorenes, in God en in Christus.
Om in God die Vader te wees, beteken om as kinders geborge te wees in Sy liefde en sorg. Dit veranker die gemeente se identiteit, veral in ’n wêreld wat hulle verwerp. Om in Christus te wees, is om onder Sy heerskappy, verlossing en geregtigheid te staan. Christus is nie net ’n voorbeeld nie, maar die Here self – die Gesalfde, die Verlosser. En deur die Heilige Gees word gelowiges verbind aan Christus, en só tot kinders van die Vader gemaak. Hierdie eenvoudige voorsetsel “in” dra dus ’n volle evangelieboodskap – van redding, verhouding en nuwe lewe.
Hierdie geestelike ligging van die gemeente bring tasbare vrug voort: geloof wat werke voortbring, liefde wat diensbaarheid dryf, en hoop wat volharding gee (vers 3). Hierdie jong gemeente word ‘n voorbeeld vir gelowiges regoor Macedonië, nie omdat hulle sterk of ervare is nie, maar omdat hulle vasstaan in Christus. Die vrug van hulle verbondenheid wys die werklikheid van hul geloof. Die seën van “genade en vrede” in Paulus se aanhef sluit die kern van die evangelie in. Genade – God se onverdiende guns – bring vrede: ware versoening met God, wat die grondslag is van enige vrede vir enige verhouding. Die orde is belangrik: genade kom eerste, dan vrede.
Vir ons as kerk vandag is die boodskap duidelik. Ons bestaansreg lê nie in ons aktiwiteite, strukture of getalle nie, maar in ons verbondenheid aan God die Vader en die Here Jesus Christus. In ’n wêreld van druk, onsekerheid en stryd, herinner Paulus ons: as ons in Hom is, is ons veilig, geroep, en bemagtig om in geloof te leef, liefde te betoon en hoop vas te hou – totdat die Here weer kom. So begin ons hierdie reeks met die wete ons identiteit is vas en seker – in God en in Christus.