Dominee: Ds. JL Lee | Kerk: GK Waterkloofrand | Datum: 21 Junie 2026 om 17:30 | ▶ Kyk op YouTube
Elke Sondag woon ons die erediens by en bring ons ons kinders na katkisasie. Ons neem deel aan die sakramente en eer die Here in die gemeente. Tog is die kernvraag: Hoe lyk ons lewens buite die kerk? Dien ons die Here in ons daaglikse bestaan, of is ons geloof beperk tot ‘n uiterlike vertoon op Sondae?
Jeremia 7 wys vir ons dat ware geloof nie net oor die fisiese teenwoordigheid in die tempel of kerk gaan nie. Israel het gedink hulle is veilig omdat hulle die tempel gehad en as die Here s’n erken het, maar hulle het terselfdertyd afgode aanbid en onreg gepleeg. Hulle het hul hoop gestel op die uiterlike belydenis, sonder ‘n werklike verandering van hart.
Die Here waarsku teen eiewillige godsdiens, want dit is afgodsdiens. Ons kan nie twee here dien nie. Dit is nie genoeg om net na die kerk te gaan en te bely dat ons Christene is nie – ons dade moet dit weerspieël. As ons Sondae in die kerk aanbid, maar deur die week in sonde lewe, is ons skynheilig. Die Here sien alles en laat Hom nie mislei deur ‘n valse belydenis nie
God haat afgodsdiens en skynheiligheid. In Jeremia se tyd het die volk hulle toevlug tot die tempel geneem, maar hul harte was ver van God. Jesus het hierdie selfde skynheiligheid in sy tyd veroordeel toe Hy die handelaars uit die tempel verdryf het. Die tempel was bedoel as ‘n huis van gebed, nie ‘n plek vir selfverryking en onreg nie. Net so wil God hê dat ons Hom met opregtheid dien – nie net in ons woorde nie, maar in ons dade.Die evangelie bring egter hoop. Deur Jesus se kruisdood is ons versoen met God. Sy genade en vergifnis is beskikbaar vir almal wat in waarheid tot Hom kom. Ons word opgeroep tot ‘n lewe van gehoorsaamheid, waar die Heilige Gees ons lei om ‘n getroue en toegewyde lewe te leef. Laat ons dus ons geloof uitleef in ons daaglikse handel en wandel, sodat ons nie net met ons lippe bely nie, maar met ons hele lewe getuig van God se heerlikheid.