Skip to content
Menu

Prediker: Ds. JL Lee  |  Kerk: GK Waterkloofrand  |  Datum: 19 Julie 2026 om 09:00  |  ▶ Kyk op YouTube


In Markus 9 sien ons ’n aangrypende kontras. Jesus praat met sy dissipels oor sy komende lyding, dood en opstanding – die hart van die evangelie. Maar terwyl Hy hulle van verlossing leer, stry hulle onder mekaar oor wie die grootste is. Toe hulle moes luister, het hulle gepraat. Toe hulle moes praat en vra om te verstaan, het hulle stilgebly.

Hoe maklik gebeur dieselfde met ons. Ons kan onsself besig hou met dinge wat uiteindelik nie die kern raak nie: ons eie aansien, ons voorkeure, tradisies, of wie die belangrikste is. Intussen roep Christus ons om ons oë op Hom te vestig – op die Seun van die Mens wat oorgelewer is om sondaars te red.

Jesus antwoord die dissipels nie met harde veroordeling nie, maar met ’n kindjie in sy arms. In God se koninkryk is ware grootheid nie om bo ander uit te styg nie, maar om nederig te dien. Wie eerste wil wees, moet die laaste wees; wie groot wil wees, moet ’n dienaar wees. Dit is presies wat Christus self gedoen het. Hy het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe as losprys te gee.

Die vraag is dus nie: “Hoe belangrik is ek?” nie, maar: “Hoe getrou luister ek na Christus?” Minder redekabel, meer luister. Minder selftrots, meer selfverloëning. Minder fokus op my eie naam, meer op sy heerlikheid.

Wanneer ons stil word voor die Woord, ontdek ons weer wat werklik saak maak: Jesus Christus, gekruisig en opgestaan. Dan word ons bevry van die drang om onsself groot te maak, en leer ons om in liefde te dien. Mag die Here ons vandag leer om te praat wanneer die waarheid bely moet word, maar ook om stil te bly wanneer ons eie eer die middelpunt wil word.