Prediker: Ds. Jan-Louis Lee | Kerk: GK Waterkloofrand | Datum: 22 November 2026 om 17:30 | ▶ Kyk op YouTube
Ons was dood in ons sondes, leer die Bybel ons. Leweloos, en tog asemhalend. Die lewe sonder Christus kan saamgevat word in een woord: DOOD.
Maar aan God die dank: Christus gaan staan in die hemelse hofsaal en dra Self die skuld. Sy geregtigheid word ons toegereken, en ons skuld word op Hom oorgedra. Die amper ongelooflike is waar: Tot die dood toe skuldig, maar steeds geregverdig. En verder: dit is asof ons ons hele lewe lank reg geleef het en gehoorsaam was.
Tog is dit asof hierdie ontsaglike wonderlike nuus vir die mens nie goed genoeg is nie. In ondankbaarheid draai die mens dan om en vra ‘n baie arrogante vraag: Kan ek nie ‘n deel van my verlossing self volbring nie (Sondag 24)?
Ons weet egter: indien ek op grond van werke vrygespreek wil word, moet dit in alle opsigte perfek wees. Ons werke moet dan in alle opsigte met die wet van God ooreenstem. God eis nie 50% en dan gee Hy ook 50% nie. Hy eis 100%. Daarom die refrein van Efesiërs 2: Ons was dood. ‘n Dooie is dus nie in staat om enigiets by sy verlossing te voeg (buiten die sonde wat die verlossing genoodsaak het in die eerste plek nie).
Daarom die wekroep van die Skrif en belydenis: “Maar God het …”
God het alles gedoen omdat ons niks daarvan kon volbring nie. Tog volg werke vanuit ons dankbaarheid.
Sondag 24 leer dus wat die ordelike en dankbare plek van
GOEIE WERKE in die lewe van enige gelowige is.