Riglyne vir die Bybelstudie met die oog op Sondag 3 Maart 2019
Lees 1 Johannes 5:1-12 deur soos dit hier onder uit die Direkte Vertaling weergegee word:
1 Johannes 5:1-12
5 1 Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore, en elkeen wat die Vader liefhet, het ook almal lief wat uit Hom gebore is. 2 Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie nakom. 3 Want dit is die liefde vir God, dat ons sy opdragte gehoorsaam, en sy opdragte is nie ‘n swaar las nie; 4 want elkeen wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dít is die oorwinning wat die wêreld oorwin, ons geloof.
5 Wie anders oorwin die wêreld as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is? 6 Hy, Jesus Christus, is die Een wat deur water en bloed gekom het — nie net deur die water nie, maar deur die water én die bloed. Die Gees is die Een wat getuig, want die Gees is die waarheid. 7 Want daar is drie wat getuig: 8 die Gees en die water en die bloed, en hierdie drie is dit eens. 9 As ons die getuienis van mense aanvaar — die getuienis van God is vir seker groter, omdat dit die getuienis van God is wat Hy oor sy Seun gelewer het. 10 Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in homself; wie God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak omdat hy nie die getuienis geglo het wat God oor sy Seun gelewer het nie. 11 En dit is die getuienis: dat God die ewige lewe vir ons gegee het, en dié lewe is in sy Seun. 12 Wie die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.
Gee in u studie aan die volgende sake aandag:
- Geloof is nie mensewerk nie. Motiveer uit vers 1a.
- Wat weet ‘n mens volgens vers 1 van iemand wat glo dat Jesus die Christus is?
- Ons moet glo dat Jesus die “Christus” is. Wat sou dit inhou as ek dit glo? (Wenk: vgl. die Direkte Vertaling se beskrywing van die woord “Christus” naamlik dat dit die Griekse vorm vir die Hebreeuse ‘Messias’ is en dat albei woorde beteken ‘Gesalfde.’ Die Jode het so ‘n “Gesalfde” verwag wat vir hulle verlossing sou bring.)
- Liefde vir God en liefde vir hulle wat van God die ware lewe ontvang het, hoort onlosmaaklik bymekaar. Motiveer uit verse 1b-2.
- Wanneer is iemand volgens verse 3-4 werklik ‘n oorwinnaar?
- Hoekom sou iemand wat glo dat Jesus die “Seun van God” is, die wêreld oorwin? (v. 5).
- Wat word bedoel wanneer Johannes sê dat Christus deur “die water” en die “bloed” gekom het? (Wenk:
T.o.v. “die water”: let op wat het Jesus ondergaan toe Hy as Verlosser die werk wat die Vader hom gegee het, opgeneem het. Lees: Mark. 1:1-8; Luk. 3:1-9,15-17; Joh. 1:19-28.
T.o.v. “bloed”: vergelyk byvoorbeeld Openbaring 1:5c).
- Mense ontvang volgens vers 6d-9 oorweldigende getuienisse aangaande die verlossing wat God se Seun bewerk het. Motiveer uit verse 6-9c.
- Wat weet ons volgens vers 10 van iemand wat in God se Seun glo, en wat weet ons van iemand wat nie glo nie?
- Die getuienis wat God gee, is vir enige mens lewensbelangrik. Motiveer uit vers 11-12.
Lees ook die Dortse Leerreëls art. 16 in verband met hulle wat nog twyfel – hulle wat die lewende geloof in Christus, die vaste vertroue, die gewetensrus, die beoefening van kinderlike gehoorsaamheid en die roem in God deur Christus nog nie ten volle ervaar nie.
Dortse Leerreëls Art. 16
- Hulle wat die lewende geloof in Christus, die vaste vertroue, die gewetensrus, die beoefening van kinderlike gehoorsaamheid en die roem in God deur Christus nog nie ten volle ervaar nie- ofskoon hulle die middele gebruik waardeur God hulle beloof het om hierdie dinge in ons te bewerk-moet nie mismoedig word wanneer hulle van die verwerping hoor nie. Hulle moet hulleself ook nie onder die verworpenes reken nie, maar ywerig voortgaan om die middele te gebruik, vurig verlang na die tyd van oorvloediger genade en dit ook met eerbied en ootmoed verwag. Hulle wat ernstig begeer om hulle tot God te bekeer, om Hom alleen gehoorsaam te wees en van die liggaam van die dood verlos te word, maar op die pad van die vroomheid en die geloof nog nie so ver gekom het as wat hulle wel wou nie, behoort nog minder die leer van die verwerping te vrees. Die barmhartige God het immers beloof dat Hy die dowwe lamppit nie sal uitblus en die geknakte riet nie sal verbreek nie. Maar hierdie leer is tereg verskriklik vir almal wat God en die Verlosser, Jesus Christus, verag en hulleself geheel en al aan wêreldse sorge en sondige begeertes oorgegee het. Dit sal so bly solank hulle hulle nie met erns tot God bekeer nie.