Lees Rut 1-2. Teks: 2:20
Gelowige, eers die interne gevegte en dan die oorlog na buite.
Wat is my grootste vyand in die oorlog na buite?
Wanneer daar groot teëspoed in ons lewe kom, soos in die lewe van Naomi, is ons grootste vyand dikwels nie buite onsself nie. Grootste geveg is dikwels ‘n interne geveg. Toe Naomi teruggekeer het na haar land, was haar omstandighede baie negatief. Om net ten opsigte van haar brood en botter sake te oorleef, was vir haar as weduwee uiters moeilik. Haar skoondogter wat saam met haar teruggekom het, het sake nog verder bemoeilik. Sy was ‘n Moabitiese vrou! Neem daarmee saam die groot hartseer in Naomi se lewe. Sowel haar man as haar twee seuns het in die vreemde land gesterf.
In haar stryd was daar egter nog ‘n groter vyand, naamlik haar eie denke. Sy het dit wat met haar gebeur het en die omstandighede waarin sy verkeer het, op ‘n sekere manier verstaan. Sy beklemtoon vir haar skoondogters die hoop-loosheid om enigsins aan haar verbind te wees (v. 12-13), die bitterheid en leegheid van haar lewe, en die ergste, dat dit die “Almagtige” is wat dit aan haar gedoen het (v. 21). Watter antwoord het iemand – en in hierdie geval ‘n weduwee – as die Almagtige teen jou draai? Vasgevang in hierdie soort denke, is haar antwoord aan Rut, wanneer Rut vra of sy op die lande kan are optel, onnadenkend – eintlik onverantwoordelik. Naomi rig geen waarskuwing in verband met die gevare op die lande nie (vgl. 2:15, 22). Dit is ook duidelik dat sy geen inisiatief neem om haar en Rut se situasie te verbeter nie. Die grootste geveg in beproewing is dikwels my eie denke.
Eers ‘n interne oorwinning.
Naomi word deur die Here gelei om in haar eie denke die oorwinning te behaal. Daar gebeur ‘n aantal dinge wat lyk dat dit toevallig was. Rut kom sonder enige beplanning of raad van Naomi se kant by ‘n land van ‘n familielid van Naomi se oorlede man uit. Sonder dat iemand dit beplan het, kom die familielid – Boas – toe ook uit Betlehem daar aan. Die gebeure tussen Rut en Boas lei daartoe dat Rut ‘n groot hoeveelheid graan huis toe neem en selfs ook kos vir haar skoonma.
Naomi begryp dadelik dat hier iets besonders gebeur het. Sy hoor ook dat die een wat in Rut belang gestel het, Boas was en sy besef dat hy familie van haar en Rut (let op die ”ons” in v. 20) en dus ook ‘n losser is. By dieselfde vrou wat haar weerloosheid teen die Almagtige beklemtoon het, is daar skielik ‘n ander verstaan van sake. Die verandering is nie dat sy nie meer die intense hartseer oor haar man en seuns se dood ervaar nie. Die verandering in denke gaan oor Wie God is en wat Hy doen. Sy noem Hom nou op sy verbondsnaam, HERE (v. 20). Hy is die Een wat in genade, Hom in ‘n intense verhouding aan sy kinders verbind het. Voorop staan nou vir Naomi God se “trou” (v. 20). Sy besef dat selfs die dood van haar man en seuns nie beteken het dat die HERE sy trou onttrek het nie. Hierdie is die belangrike oorwinning wat elke gelowige in ‘n tyd van sware teëspoed moet behaal. Hy wat Hom deur sy Seun aan my verbind het, onttrek sy trou nie aan sy kinders nie – selfs nie as dit vir my voel of Hy, die Almagtige, teen my gedraai het nie.
Dan met hoop die oorlog na buite.
Dit is opmerklik hoe Naomi, wanneer sy die HERE se trou begryp, nuut dink en nuut doen. Sy waarsku Rut in verband met molestering (2:22) en sy neem haar verantwoordelikheid op om oor Rut se toekoms te dink (3:1). As ek in my denke die oorwinning behaal het, kan ek die oorlog na buite veg.
Daarom, waak dat:
- omstandighede en gebeure nie vir jou voorsê Wie God is en wat Hy doen nie. Laat die Woord en Gees jou dit leer.
- die HERE se trou nie vir jou maar net woorde is nie. Ken die Here se trou in Jesus Christus en in die gawe van die Heilige Gees wat aan jou gegee is.
- jou weerloosheid in teëspoed nie die oorhand kry nie. Skuil onder die HERE se vleuels.
- jy nie God se almag verkeerd verstaan nie. Niks in die lewe gebeur toevallig nie. Die Almagtige regeer en stuur alles in die lewe ten goede vir hulle wat Hom liefhet.