Lees Johannes 2:13-22 soos hier onder weergegee:
Johannes 2:13-22
13 Die paasfees van die Jode was naby, en Jesus het daarvoor na Jerusalem toe gegaan. 14 Op die tempelplein het Hy die verkopers van beeste, skape en duiwe gekry en die geldwisselaars wat daar sit. 15 Toe het Hy met toutjies ‘n sweep gemaak en almal uit die tempel uitgejaag, ook die skape en die beeste. Die geld van die geldwisselaars het Hy op die grond gegooi en hulle tafels omgekeer. 16 Vir die mense wat die duiwe verkoop het, het Hy gesê: “Vat hierdie goed hier weg! Moenie die huis van my Vader ‘n besigheidsplek maak nie.”
17 Toe het sy dissipels daaraan gedink dat daar geskrywe staan: “Die liefde vir u huis verteer my.”
18 Maar die Jode het Hom aangespreek en vir Hom gesê: “Met watter wonderteken kan u vir ons bewys dat u hierdie dinge mag doen?”
19 Jesus het hulle geantwoord: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig.”
20 Die Jode sê toe: “Ses en veertig jaar lank is daar aan hierdie tempel gebou, en u sal hom in drie dae oprig?”
21 Met “hierdie tempel” het Hy egter sy liggaam bedoel. 22 Later, nadat Hy uit die dood opgewek is, het sy dissipels daaraan gedink dat Hy dit gesê het, en hulle het die Skrif en die woorde van Jesus geglo.
Die klem in die Bybelstudie sal val op Jesus se woorde dat Hy die tempel sal afbreek en weer oprig.
Gee in u studie aandag aan die volgende sake:
1. Lees Eksodus 12:41-51 in verband met die Paasfees waarnatoe Jesus volgens vers 12 sou gaan.
2. Die tempelplein waar Jesus die verkopers en die geldwisselaars gekry het, is ook genoem “die voorhof van die heidene.” Nie-Jode was toegelaat om daar te aanbid. Hoekom sou Jesus so streng optree teen hierdie mense wat daar verkoop en geld gewissel het? Vergelyk vir u antwoord vers 16.
3. Waar sou Jesus die toutjies gekry het om ‘n sweep te maak? Wenk: Hoe sou die verkopers gekeer het dat bv. die skape wat hulle verkoop, nie weghardloop nie?
4. Johannes beskryf verskillende optrede van Jesus teenoor die verskillende groepe daar in die tempelplein. Verduidelik uit verse 15 en 16.
5. Dit is uit vers 17 duidelik dat Jesus se optrede die dissipels herinner het aan dit wat in die Ou Testament geopenbaar is. Motiveer uit Psalm 69:10 naamlik uit die 1933/53 Afrikaanse vertaling.
6. Jesus se gesagvolle optrede op die tempelplein was reeds ‘n teken dat die Messias gekom het – Hy wat deur ywer verteer word vir sy Vader se huis (Ps. 69:10). Die Jode se versoek volgens vers 18 openbaar dat hulle die teken wat voor hulle oë op die tempelplein plaasgevind het, nie verstaan het nie. Motiveer.
7. Die Jode het self in hulle gesprekke met mekaar spreuke gebruik – spreuke waaroor jy eers goed moes nadink om die werklike punt van die spreuk te verstaan. Die Jode het duidelik nie nagedink oor dit wat Jesus bedoel het met sy verwysing na die afbreek en opbou van die tempel nie. Na watter tempel het Jesus wel verwys (vgl. v. 21) en na watter tempel het hy volgens die ongelowige Jode verwys (vgl. v. 20)?
8. Lees die volgende gedeeltes en let op hoe die Jode hierdie woorde van Jesus oor die afbreek en opbou van die tempel, later gebruik (misbruik) het: Matteus 26:61 en Handelinge 6:14.
9. Moeilike vraag: “Watter tempel het Jesus in drie dae met sy opstanding opgerig?” Was dit bv. die tempel daar in Jerusalem, Jesus se liggaam, die kerk as sy liggaam, ens.