Jesaja 9:1-6, Openbaring 5:1-14
‘Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.’
Die belofte van ons Verlosser
In Jesaja word daar oor die koms van die Messias geprofeteer. Die belofte staan vas – Hy kom. Tussen die strafgerigte wat God oor sy volk het, kondig Hy uitkoms aan. Dié uitkoms word werklikheid in Christus. Deur sy heerskappy sal daar vrede wees op aarde. Hy sal uit ‘n vrou gebore word om die kop van die slang te vermorsel.
Die aankondiging van Jesus Christus
Die mense vir wie Jesaja profeteer het in die duisternis gewandel. Hulle dwaal in die sonde en dit bring swaarkry in hulle lewe. Daarom word hulle deur die Here gestraf. Die Here toon vir hulle deur sy profeet aan dat die donkerheid slegs deur die koms van die lig weggevat kan word. Wie is hierdie lig? Dit is die Kind wat gebore gaan word. Jesus noem homself later dié lig: ‘Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.’ (Johannes 8:12) Die geestelike stryd teen die sonde word gewen omdat ’n Kind gebore is. ’n Verlosser wat stry vir die bevryding van sonde vir die kinders van God. Jesaja profeteer oor die koms van die Messias. Hy kondig aan dat Jesus Christus oppad is. Daar is uitkoms. Die Here troos die mens met die belofte om aan hulle sy Seun te gee en hulle te red. ‘Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer…’
Die waardigheid van Jesus Christus
In Openbaring 5:2 skryf Johannes – “Ek het ook ‘n sterk engel gesien wat met ‘n harde stem uitroep: Wie is waardig om die boekrol oop te maak en die seëls daarvan te breek?” Wie is waardig? Net een – “Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die loot van Dawid, het oorwin sodat Hy die boekrol en die sewe seëls daarvan kan oopmaak.” Dit is Jesus Christus. Hy is waardig. Hy is die Verlosser wat die Here aan sy volk belowe het. Jesaja profeteer oor Hom. Hy lei ons deur hierdie lewe. Hy word wonderbaar genoem. Hy het ondenkbare metodes hoe Hy ons bystaan. Sy krag is soveel groter as ons sin, dat ons dit nie verstaan nie. Wanneer jy raad nodig het, onthou, Hy is dié Raadsman. Wanneer krag nodig is, Hy is die sterke en kragtige God. Wanneer slegte dinge gebeur en slegte mense die lewe hier vir jou moeilik maak. Onthou dan: Christus is daar tot in ewigheid. Bring jou sorge na Hom toe. Wanneer die Satan onrus in jou lewe bewerk, onthou Christus is die Vredevors. Jesus Christus is alles in alles. Hy, die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof.
Die Lied van die Lam
‘Aan U, o Lam van God, ‘n nuwe lofgesang!
Want U is waardig om die wonderboek te ontvang
en oop te breek – die boek van toekoms en verlede
en van wat word, geskrif van Gods verborgenhede.
U’s waardig, U alleen, omdat die werk volbrag is,
Toe U as offer vir ons sondeskuld geslag is.’
Ds. Gerben Meijer