Skip to content
Menu

Hebreërs 11:1-7 & 32-40

‘Geloof egter is sekerheid van die dinge wat gehoop word; ‘n bewys van die dinge wat nie gesien word nie.’

GERED DEUR GELOOF ALLEEN

Deur die geloof alleen word jy gered. Geloof is die unieke gawe wat ons van die wêreld onderskei. Twee tekste beskryf die belangrikheid daarvan: Romeine 1:17 – ‘Die regverdige sal uit die geloof lewe’ en Efesiërs 2:8 – ‘Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julle self nie: dit is die gawe van God.’ Geloof – ons leef daaruit elke dag. Hierdie kosbare gawe van God.

Geloof is om Jesus Christus te omhels

Ons bely in die Nederlandse geloofsbelydenis – Die geloof omhels Jesus Christus met al sy verdienstes. Dit maak Hom ons eie en soek na niks ander as na Hom nie. As ons van geloof praat het dit direk betrekking tot Jesus Christus. Ons geloof gaan nooit buiten Hom om nie. Wat beteken dit dat ons Hom omhels? Dit beteken dat jy ’n gawe ontvang. Die Heilige Gees werk geloof in jou hart. Jy glo dat jy in Jesus Christus is. Dat Hy jou Redder is. Dit beteken dat jy as mens weet wie Hy is. Jy verstaan dat Hy jou losgekoop het van die dood. Hy het betaal vir jou sonde. Net deur Hom word jy gered. Dit is hoe Jesus in die geloof omhels word. Ons as gelowiges is die bruid van ons bruidegom Jesus Christus.

Geloof is meer as gevoel

Geloof is ’n gevoel. Jy het dit in jou hart. Jy voel dit, jy weet dit is daar. Jy is in Christus, en Christus is in jou. Dit is ’n ryke gawe wat die Heilige Gees in ons harte bewerk. Maar geloof is meer as gevoel. Geloof berus op die kennis wat ons van God het. Ons glo in God se openbaring aan ons. Geloof berus nie op ons gevoel nie. Gelukkig nie, want ’n mens se gevoel is gedurigdeur anders. Ons gevoel kan nie ons geloof bepaal nie. Dit gee vir ons berusting. Want ons geloof is nie altyd ewe sterk nie. Soms brand die vlammetjie laag. Maar dan weet ons, die vlammetjie sal nie uitgaan as die gevoel weg is nie. Die ware geloof berus op ware Godskennis.

Geloof gaan die verstand te bowe

Ons leef in die tyd waar alles verklaar moet word. Ek dink, daarom is ek. Wat ek nie verstaan nie, kan nie waar wees nie. Die mens soek vir alles bewyse. As iets nie bewys kan word nie, dan is dit nie waar nie. Dit maak ons as gelowiges wêreldvreemd. Ons glo. Ons glo in onsigbare dinge. Nie een van ons het Jesus Christus gesien nie, maar ons weet wie Hy is. Ons glo in Hom. Ons kan nie die Heilige Gees sien nie, maar ons weet Hy is hier. Ons glo Hy werk in ons. Deur geloof gaan jou oë oop. Geloof is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop. Dit is ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. In geloof weet ons dat ons nie alles verstaan nie. God se almag gaan ons verstand te bowe. In geloof weet ons genoeg om in God berusting te vind.

Gesprekspunte

  1. Hoe sal jy jou geloof beskryf?
  2. Hoe kyk jy daarna om ‘vreemdeling op die aarde’ te wees? Waarin verskil jou lewenspatroon van iemand wat nie glo nie?

Ds. Gerben Meijer