Psalm 122
‘Bid om die vrede van Jerusalem; mag hulle wat jou liefhet, rustig lewe!’
VREUGDE IN DIE HUIS VAN DIE HERE
Psalm 122 is een van die pelgrimspsalms. Dit is die psalms wat die Israeliete gesing het as hulle tempel toe gegaan het. Israel het destyds uit 12 stamme bestaan. Die mense moes ’n ent stap om by die tempel uit te kom. Drie keer per jaar het hulle dit gedoen. Dit was die Here se opdrag aan hulle. In Deuteronomium 16:16 staan daar – ‘Drie maal in die jaar moet al jou manne voor die aangesig van die Here jou God verskyn op die plek wat Hy sal uitkies.’ Die plek wat die Here vir Hom gekies het – Jerusalem. Vanuit die hele land, trek mense op. Hulle maak gereed, hulle berei hulle voor, vir hierdie ontmoeting met die Here. Besef jy wat dit beteken om vandag die Here in sy erediens te ontmoet? Kom jy gelukkig kerk toe? Vind jy vrede in die huis van die Here
‘n Huis van blydskap (vers 1-2)
Psalm 122 is ’n lied van blydskap. Met vreugde in hulle harte het die Israeliete dit gesing. Hulle was bly as hulle tempel toe gaan. Ons trek vandag op na die kerk van die Here. Ons kom hier in sy huis bymekaar. Ons het alle rede om met blydskap kerk toe te kom, want hier ontmoet ons, saam as gemeente, die Almagtige God in sy erediens.
‘n Huis van reg (vers 3-5)
Dit is ’n belangrike eienskap van die kerk van Jesus Christus. Die reg moet geskied. Die wil van die Here word uitgevoer. Die stoele vir die reg staan in Jerusalem. Die mense gaan met vreugde soontoe omdat reg daar geskied. God is ’n regverdige God. Daarom is dit belangrik dat daar in ons kerke toesig gehou word. Dit is nodig dat die tug liefdevol toegepas word sodat ons reg voor God leef.
’n Huis van vrede (vers 6-9)
Jerusalem beteken stad van vrede. Dit was vir die mense van ouds so gewees. Jerusalem was die stad wat vir hulle veiligheid bied. As hoofstad van Israel was dit dié vesting waarbinne die vrede bewaar is, waar mense veilig was teen die sonde. Binne die wêreld waarin ons vandag leef, is die huis van God ’n plek van vrede. In die besige lewe met swaar omstandighede vind ons hier rus. Vind ons hier vrede in Christus.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com