Efesiërs 1:3-6 enRomeine 3:9-31.
Uitverkiesing: vol verwyte óf verheerliking met oorgawe?
Die uitverkiesing is vir baie mense onaanvaarbaar. As ons egter goed luister na wat die Skrif oor God se uitverkiesing (en God se verwerping van mense) leer, kom jy gou agter dat al die negatiewe uitsprake oor die uitverkiesing nie gewig dra nie. Ons wil dan in ‘n kort reeks preke uit die Skrif volgens die raamwerk van die Dordtse Leerreëls aandag gee aan wat God hieroor openbaar.
Verwyte is totaal ongegrond.
In Romeine 3:1-18 word, met baie verwysings na die OT, ‘n uiters donker prentjie van die mensdom geskets. Wat ‘n mens tref, is dat woorde soos “almal” en “nie een nie” gebruik word wanneer die mensdom in sy sondigheid ontmasker word. Hoor net die gevolgtrekking oor die mensdom in vers 20: “Niemand sal hom dus kan verweer nie, en die hele wêreld is strafwaardig voor God.” Wanneer ons oor die uitverkiesing besin, moet ons altyd by hierdie feitlike werklikheid van elke mens begin. God sou dus “niemand veronreg het as dit sy wil was om die hele menslike geslag in die sonde en vervloeking te laat bly en vanweë die sonde te veroordeel nie” (DL, 1.1).
God gee immers geregtigheid!
Die Heilige Gees openbaar in Romeine 3 egter nie net dat die hele wêreld voor God strafwaardig is nie. God het nie die hele menslike geslag in die sonde en vervloeking laat bly nie. Daarom die woorde “Maar nou…” in vers 21. God het ‘n nuwe bedeling laat aanbreek – ‘n bedeling waarvan in die Ou-Testamentiese bedeling reeds getuig is (vgl. v. 21b). Wat kom in die nuwe bedeling na vore? Die “geregtigheid van God” (v.21), dit is ‘n “volmaakte verhouding met God” wat God self gee. Verwyte moet vervang word met verheerliking – verheerliking van Hom wat geregtigheid gee aan doemwaardige mense.
Daar is immers ‘n duur prys vir geregtigheid betaal!
God is regverdig en oordeel regverdig (vgl. v. 26). Hoe sou Hy dan aan mense wat volkome doemwaardig is, geregtigheid kan toereken? Is daar in die mense wat hierdie geregtigheid van God ontvang, tog ‘n stukkie goed? Het hulle iets in hulleself waarmee God kan werk en volmaakte regverdigheid kan bewerk? Ons Skrifgedeelte is hieroor baie duidelik. Wie hierdie geregtigheid ontvang, kan op niks roem nie. Dit word werklik sonder enige, let wel, enige verdienste, ja, alleen op grond van God se genade verkry (v. 24). Daar is egter ‘n duur prys betaal vir hierdie geregtigheid. Die regverdige Regter wat die doemwaardige mense sou moes veroordeel, het die duur prys self betaal. God het sy Seun as offer gegee (v. 25-26). Deur sy bloed – sy dood – het God versoening bewerk vir mense oor wie Hy Hom in genade ontferm het en as sy kinders uitgekies het. Verheerlik God oor die uitverkiesing. Hy het self die duur prys betaal sodat Hy doemwaardige mense kon red.
Mense wat nie wil glo nie, glo immers nou!
Die geregtigheid waarvoor so duur betaal is, kan net op een manier deur ‘n mens ontvang word. Die mense moet in geloof sy hand uitsteek en dit neem. Alleen hulle wat glo in Hom wat deur God geoffer is, Jesus Christus, ontvang hierdie geregtigheid van God (vv. 22, 26 en 30). Alle mense, so maak die Bybel duidelik, is verdorwe en klap God se hand van genade weg. Wie nie wil glo nie, ontvang nie die geregtigheid van God gee nie. Elke mens wat so optree, dra self die skuld dat God hom/haar verwerp en in die oordeel laat bly. Tog is daar mense wat glo. Was daar tog iets goeds in hierdie mense wat glo? Ook hierdie geloof is ‘n gawe wat God skenk (vgl. Ef. 2:1-10). Hy skenk dit nie omdat Hy dit aan enigeen skuld nie. Hy skenk dit uit louter genade en Hy skenk dit aan wie Hy volgens sy eie besluit dit wil skenk. Wanneer hierdie begenadigde mense tot bekering en geloof in Jesus Christus geroep word, steek hulle, deur die werk van die Heilige Gees, hulle geloofshand uit en ontvang hulle (anders as hulle wat uit eie wil God se genade verwerp) God se geregtigheid. Laat ons dan verwyte vervang met verheerliking: God laat my, wat nie sou glo nie, in sy groot genade glo.