Markus 2:1-17
‘Gesonde mense het nie ‘n dokter nodig nie, maar wel die siekes. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars.’
GENEES DEUR JESUS CHRISTUS
As Christene leef ons hier op die aarde in diens van die Here. Ingelyf by die huisgesin van die Here, leef ons as kinders van God. Ons verhouding groei telkens sterker, maar tog word daar so gereeld skeef gegroei. Gereeld bevind ons onsself op syspore, is ons oë nie op Christus gefokus en gerig nie. Daarom roep die Here ons gereeld terug. As sondaars het ons genesing nodig. Daarvoor het Jesus Christus gekom. ‘Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars.’
Die almag van Jesus Christus
Die mens se grootste probleem is dat hy nie besef daar is ‘n probleem nie. Deur die sonde is die mens nie in staat om sy sonde raak te sien nie. In die gedeelte word ons Here Jesus Christus in sy almag aan ons bekend gemaak. As die Seun van God sien Hy regdeur mense. Hy sien regdeur ons en Hy sien ons as sondaars. In die gedeelte is dit opvallend. Jesus kyk deur die verlamde man en Hy sien hom raak. Hy sien sy geloof en sy sonde. In sy almag sien Jesus wat in die harte van die skrifkenners gebeur. Die vrae wat daarin ontstaan. In sy almag sien Jesus vir Levi (vers 14). Deurdringend kyk Jesus mense aan. As Hy hulle sonde raaksien, kyk Hy nie weg nie.
Die Vrymag van Jesus Christus
“Kind, jou sondes word vergewe.” Vergewing word uitgespreek. Jou sondes is weg. God sal nie weer daaraan dink nie. God se vergewing is radikaal. Dit kom sonder ‘n ‘maar’. Vir die skrifkenners is dit onaanvaarbaar dat Jesus so iets kan sê. In hulle harte dink hulle – “Wie is hy dat hy so kan praat? Hy laster! Wie is in staat om sondes te vergewe behalwe net Een, en dit is God?” Jesus ken hulle gedagtes. Hy maak aan hulle bekend dat Hy die vrymag het om sondes te vergewe. Hy is God. Vir die rede het Hy na die aarde toe gekom. Wie na Hom toe kom vir genesing, kry vergewing. Om dit te bewys, dat Jesus sondes kan vergewe, genees Hy die verlamde man.
Die Volmag van Jesus Christus
Jesus maak jou vry. Hy het die volmag om dit te doen. In vers 10 staan daar – ‘Maar sodat julle kan weet dat die Seun van die Mens volmag het om op die aarde sondes te vergewe…” Daarvoor het Christus gekom. Hy het gekom om sondaars te roep. Om vir die sondes van die uitverkore kinders van die Here sterf. Hy het volmag om te vergewe, want Hy is die Lam wat vir ons instaan en vir ons sondes betaal. Dit is die woord wat Hy deurlopend hier op die aarde verkondig het.
Gesprekspunte
- Wat was die fokus van Jesus gewees in die tyd wat Hy hier op die aarde was?
- Wat is die toepassing van vers 17 op jou lewe? Ken jy jou jouself en jou tekortkominge?
- Wat behels dit vir jou om met die woorde – ‘Kind, jou sondes word vergewe.’ te lewe?
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com