Markus 11:12-25
“Daarom sê Ek vir julle, alles waarvoor julle bid en vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so gebeur.”
BID MET GELOOFSVERTROUE
‘Alles waarvoor julle bid en vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so gebeur.’ Hierdie woorde van Jesus roep by ons heelwat vrae op. Daar is tog soveel sake waarvoor gebid word, wat nie so gebeur nie. Om Jesus se uitspraak goed te verstaan, is dit belangrik om hierdie belofte te verbind aan die aansporing wat dit voorafgaan in vers 22 – ‘Julle moet geloof in God hê.’ Dit moet weer gehoor word binne die konteks van die hele gedeelte oor die vyeboom en die tempel (11:12-25)
Vloekwonder
As Jesus wonders gedoen het, het daar meestal iets moois gebeur. Genesing, bevryding of water wat in wyn verander word. Hier gebeur nou ‘n ander wonder – ‘n Boom wat in ‘n dag se tyd tot die wortel toe opdroog. Jesus ondersoek die boom en sien dat dit niks het om aan te bied nie. Dit terwyl die boom nie vrugte behoort te dra nie, want dit was nie die seisoen daarvoor nie. Die ondersoek van die vyeboom gaan gepaard met die voorafgaande gedeelte in vers 11. Daar het Jesus die tempel ondersoek en gekyk wat daar alles gebeur. Die vyeboom wys na Israel.
Tempelwonder
Jesus bring die tempelterrein tot stilstand. Hierby moet ons besef dat die terrein baie groot was en dat daar baie mense rondgeloop het. Dit is ondenkbaar dat een man so groot impak kon hê. God se Gees gaan deur die tempel en niemand durf hom teen Jesus verset nie. Waarom doen Jesus dit? Die tempel voldoen nie meer aan die doel van God nie: dat dit ‘n gebedshuis vir alle volke is (Jesaja 56:1-8). Inteendeel, dit het ‘n rowersspelonk geword. ‘n Plek waar die geestelike leiers tuis voel. Dit is nie ‘n gasvrye en veilige plek waar almal welkom is nie. Die tempel was bedoel as teken van die aanwesigheid van God by Israel ten behoewe van die wêreld. Maar in die tyd wat Jesus op die aarde was, het die priesters en skrifgeleerdes dit so gereël dat dit nie so was nie. Die tempel was nie meer uitnodigend na ander volke nie, dit was eerder afwysend.
Gebedswonder
Die volgende oggend kom die vyeboom weer in beeld: dit is nou heeltemal verdor. Soos wat dit met die vyeboom gebeur het (veroordeel om nooit weer vrug te dra nie) so sal ook met die tempel gebeur: veroordeel en verwoes om plek te maak vir Jesus. Om plek te maak waaroor dit in die tempel behoort te gaan (geloof, gebed, vergewing). Hieroor gee Jesus nog ‘n paar uitsprake wat ons help om heeltemal op Hom te fokus.
Geloof – Hou moed. Die koninkryk van God wat kom is beter as die tempel (die berg wat in die see moet beland is die tempelberg). Geloof in God maak ons as kinders van die Here kragtig in ons roeping hier.
Bid – Vertrou jouself geheel en al aan Jesus toe in alles wat jy nodig het en ontdek wat jy alles al ontvang het.
Vergeef – In God se koninkryk is daar nie plek vir persoonlike wrokke of aggressie nie, maar slegs vir sagmoedigheid van mense wat geleer het om te leef vanuit genade.
Gesprekspunte
- Wat is die verhouding tussen bid, glo en ontvang?
- Hoe moet ons gebedsverhoring verstaan? (Efesiërs 3:20,21 & Jakobus 1:5-8)
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com