Skip to content
Menu

Mattheus 18:15-35

‘Amen, Ek sê vir julle: Wat julle ook al op aarde bind, sal in die hemel gebind wees, en wat julle ook al op aarde ontbind, sal in die hemel ontbind wees.

DIE KERKLIKE TUG BRING ONS BY JESUS CHRISTUS

Tug is ’n algemene verskynsel. Amper in elke aspek van die samelewing kry ons hiermee te make. In die kerk het ons ook die tug. Mense wat in sonde volhard, word deur die kerkraad onder die tug geplaas. Maar sodra daar gepraat word van die kerklike tug, dan is die reaksies uiteenlopend – Die een sê: Tug pas tog nie meer by vandag nie? Jy kan tog nie oordeel oor iemand se geloof of gedrag nie? ’n Ander sê: Die tug het al soveel verwoesting in my familie veroorsaak. Kyk hoe het die kerk dit in die verlede misbruik. En ook, die ouderling wat die tug toepas is dan net so sondig. Maar een saak staan uit die Woord vas. En dit is: ’n Kerk sonder tug, is ’n kerk sonder ware liefde.

Die bokant van die kerklike tug

Die kerklike tug het te make met lewe en dood. Dit wat hier op die aarde gedoen word is bindend. Drie motiewe word gegee vir die kerklike tug. Eerstens gaan dit oor die eer van God, tweedens oor die behoud van die sondaar en derdens oor die heiligheid van die gemeente. Die gemeente van Christus moet beskerm word teen ons grootste vyand – die sonde.

Die onderkant van die kerklike tug

Meestal sien ons by die tug die toppunt van die ysberg – wanneer ’n persoon van die nagmaalstafel weerhou word, of gemeenskap met die gemeente opsê. Wat die oog nie sien nie is die proses wat hier voorafgegaan word. Die gesprekke wat ouderlinge met lidmate voer. Die huisbesoeke wat afgelê word om lidmate met God te versoen.

Die binnekant van die kerklike tug

Die kerk het nie ’n kerkwet waarvolgens lidmate gestraf word nie. Nie soos in die wêreld nie. Die doel van die tug is ook nie om iemand te straf nie, maar om iemand terug te bring by Jesus Christus. Om versoening te bewerk. Die binnekant van die kerklike tug is die christelike liefde. Liefde teenoor God en liefde teenoor mekaar. So beskryf Jesus dit vir ons in Mattheus 18.

Gesprekspunte

  1. Wat is jou ervaring met die kerklike tug? Wat dink jy is die waarde hiervan vir die ware gemeente van Jesus Christus?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com