Psalm 49
HK Sondag 5
‘Een familielid kan nooit ‘n ander vrykoop nie, hy kan nie aan God die losprys vir hom betaal nie, want die vrykoopprys vir hulle lewens is te hoog… Maar God sal my lewe vrykoop uit die mag van die doderyk, ja, Hy sal my wegneem.’
EERLIK GERED DEUR CHRISTUS
In Psalm 49 maak die Here Homself aan ons bekend. In die gedeelte leer ons iets oor die Here. Ons leer hoe Hy te werk gaan. Hoe sy verlossingsplan in mekaar steek. Oor wat God wil en wat Hy nie wil nie. Waarom God doen wat Hy gedoen het. Waarom Hy deur ‘n Middelaar gewerk het. Met straf en betaling vir die skuld. Doelbewus nie op ‘n ander manier nie. Dit is baie belangrik dat ons vandag verstaan hoe God te werk gaan. Dit bepaal of jy saam met God of sonder Hom leef. Dit bepaal die teenwoordige en die toekomstige. Diep onder die indruk van die Here se werk, bring ons belydenis ons by respek vir God en ons Here Jesus Christus. Die vryspraak van die uitverkore kinders, het ‘n standvastige fondament. Dit is belangrik dat jy weet hoe dit werk.
God se reg
Agter die reddingsplan van die Here staan sy regverdigheid. God wil dat daar aan sy geregtigheid voldoen word. God het reg op jou en op jou wêreld. Hy is jou Skepper. God se geregtigheid het nie eers by die sondeval begin nie. Dit is ‘n heerlike reg wat vryheid, vreugde en vrede aan die mens bied. Hierdie reg laat God nie vaar nie.
Ons onreg
God se reg sê dat daar betaal moet word. Die volgende vraag is natuurlik – wie moet betaal? Kan ons self betaal? Die antwoord hierop hoor ons in Psalm 49. Daar staan – ‘Niemand kan ooit sy broer loskoop nie, aan God kan hy geen losprys gee nie.’ (Vers 8) Almal op die aarde verkeer in ‘n posisie van onreg. Ons het ‘n Middelaar nodig.
Christus se genade
In vers 16 word daar gesing – “Maar God sal my lewe vrykoop uit die mag van die doderyk, ja, Hy sal my wegneem!” In 1 Timotheus 2:6 skryf Paulus: “Daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal…”
Gesprekspunte
- Wat beteken dit vir jou dat Jesus Christus vir jou as Middelaar intree?
- Hoe ervaar jy dit konkreet in jou lewe?
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com