Skip to content
Menu

Psalm 22:12-27

Johannes 19:17-30

‘Toe Jesus die suur wyn geneem het, sê Hy: “Dit is volbring!” En Hy het sy kop vooroor gebuig en sy gees oorgegee.’

‘Dit is volbring!’

Jy kan nie jou hande voor jou oë sien nie. Dit is pikdonker. Nie net ‘n paar minute nie, maar vir ‘n volle drie ure. Op Golgota is dit skrikwekkend stil. In die stilte stry Jesus. Daar hang Hy in die duister van God se toorn. Daar hang Hy Godverlate, onder die vloek. Maar dan na drie ure hoor ons is daar weer lig. Die dieptepunt is bereik. Jesus kom lewend uit die angswekkende, aanhoudende duisternis. Dan lees ons in vers 28 – ‘Hierna het Jesus, omdat Hy geweet het dat alles reeds volbring is…’ Na alles wat gebeur het, weet Jesus nou dat dit volbring is. Hy het betaal. Sy lyding het die dieptepunt bereik. En dan volg daar nog drie kruiswoorde. Drie woorde wat ons van ons Koning aan die kruis hoor. ‘Ek is dors’, ‘Dit is volbring’ en ‘Vader in U hande gee Ek My gees oor.’’

Sy dors – ‘TOE JESUS DIE SUUR WYN GENEEM HET’

Sodat dit Skrif vervul sou word sê Jesus: ‘Ek is dors.’ Tot hiertoe is heelwat uit die skrif vervul. Ook nou hier waar dit gaan oor Christus se dors, word daar na Psalm 22 verwys – ‘My krag het uitgedroog soos ‘n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte; in die stof van die dood laat U my lê.’ Hier gaan dit oor ‘n liggaamlike dors. Hieruit blyk dat Hy ware mens is. Die Bron van die Lewende water roep self: ‘Ek is dors.’

Sy doel – ‘sê Hy: Dit is volbring’          

Op Golgota weerklink hierdie kragtige woord: Dit is volbring. Dit is ‘n oorwinningskreet van Jesus. Hy wat die hel, dood en graf sal oorwin. Met duisend woorde kan jy nie die inhoud van hierdie volbring beskryf nie. Dit is die kern van die evangelie. Christus die Profeet, die Hoëpriester is hier aan die Woord. Hy wat sy siel vir ons as ‘n skuldoffer gestel het. Christus die Lam van God, wat die sonde van die wêreld wegneem. Jesus se woord is aangrypend. Hy voltooi die werk wat sy Vader vir Hom gegee het. In Johannes 17:4 het Hy gesê: ‘Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U aan My gegee het om te doen.’ en nou – Vader, dit is volbring.    

Sy dood – ‘En Hy het sy kop vooroor gebuig en sy gees oorgegee.’ 

Voordat Jesus sy kop vooroor buig roep Hy uit – ‘Vader in U hande gee Ek My gees oor.’ Dit is opmerklik dat Hy dit so sê. Hy het sy kop vooroor gebuig en sy gees oorgegee. Nie andersom nie. Hy sterf nie as martelaar nie, maar as Middelaar. As Koning van die konings van die aarde. Hy tree self die dood tegemoet. Sy lewe word nie ontneem nie, Hy gee dit vrylik.               

Gesprekspunte

  1. Watter ooreenkomste sien jy tussen Psalm 22 en die gebeure by die kruisiging van Jesus op Golgota?
  2. Wat beteken dit vir jou persoonlik dat Jesus Christus vir jou gesterf het? Dat Hy sy werk ook vir jou voltooi het?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com