Skip to content
Menu

1 Korinthiërs 13

‘En nou bly geloof, hoop en liefde, hierdie drie – maar die grootste hiervan is die liefde’

DIE GROOTSTE GAWE VAN DIE GEES: LIEFDE

God voeg ons saam as kerk. As mense wat saam bely dat ons aan Jesus Christus behoort. Hy gee vir ons sy Woord, sy Heilige Gees en soveel besondere gawes. In die eerste brief aan die Korinthiërs word hierdie gawes beskryf. Heelwat voorbeelde word genoem: die gawe van wysheid, kennis, geloof, genesing, profesie, onderskeiding, praat in ander tale, die uitleg daarvan. Die Heilige Gees bepaal aan wie Hy watter genadegawes gee. God verdeel dit onder sy gemeentes.  Die gevaar wat altyd hiermee saamgaan: Selfs met die mooiste dinge wat ons van God ontvang, kan ons op ‘n lelike manier mee omgaan. Hiervan is die gemeente in Korinthe ‘n voorbeeld. Hulle het baie genadegawes gekry. Met hierdie mooi persent baklei hulle met mekaar. Oor hierdie saak skryf Paulus vir hulle. Hy sê vir hulle op watter manier ons reg met die gawes moet omgaan. ‘Julle lê julle toe op die belangriker genadegawes, maar ek wys julle die heel beste weg.’ (1 Korinthiërs 12:21)

Die geheim van die liefde

Wat is liefde nou presies? Wat is die geheim daarvan? Die liefde waaroor dit hier gaan, is nie die liefde wat die wêreld van vandag skets nie. Dit is nie oppervlakkig nie. Dit gaan baie dieper. In die stad Korinte in Klein-Asië, was dit vir mense nie maklik om lief te hê nie. In die kultuur is liefde beskou as swakheid. Hulle word daarop gewys dat hulle lief moet wees vir God en vir mekaar. Paulus beklemtoon die liefde as uitnemend. Die liefde waarvan Paulus praat is liefde wat gebaseer is op die werke van God. As dit mis, mis jy die geheim van die lewe – Jy kan alles doen vir die mense om jou, maar as jy dit nie doen met liefde nie, dan beteken dit niks nie.

Die inhoud van die liefde

Liefde is…In vers 4-6 word die inhoud daarvan beskryf. Dit wat in die verse staan, dit is liefde. Dit is diensbaar wees aan die Here en jou naaste. Dit is liefde in sy volle omgang. Dit is allesbeheersende en onvoorwaardelike liefde. Dit is die beginsel waarvolgens elke christen mag leef. En dan besef ons. Die lat lê hoog. Daarom plaas die Here ons fokus ook hier op die ewigheid.

Die ewigheid van die liefde

Die liefde wat nou hier is, hou nooit op nie, dit val nooit weg nie. 1 Korinthiërs 13 plaas ons lewens in ewigheidsperspektief. In vers 8 lees ons: Profesieë – hulle sal tot niet gaan. Tale – hulle sal ophou. Kennis – dit sal tot niet gaan. Maar liefde vergaan nimmermeer. Paulus plaas die fokus op die gebrokenheid van vandag en die volmaaktheid van die toekoms. Aan die gawes moet ons vashou – Dié liefde ontvang ons nou as gawe van God.

Lees: 1 Korinthiërs 13 Teksvers: 13 Liturgie: Ps. 146-1:1,2,3; Ps. 119-1:1,2; Sb. 9-4:1,2,3,4; Sb. 9-4:5,6; Ps. 146-1:4,6,8.

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com