Skip to content
Menu
Lees: Lukas 2:25-35 Teksverse: 34, 35 Sing: Ps. 9-1:1,7,8; Ps. 86-1:1,6; Sb. 4-7:1,2; Ps. 18-1:1,14; Ps. 67-1:1,2,3.

“Simeon het hulle geseën en vir Maria, sy moeder, gesê: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem vir die val en die opstaan van baie mense in Israel, as ‘n teken wat betwis word, sodat die bedoelinge van baie mense aan die lig kan kom. En wat jou betref, ‘n swaard sal deur jou siel gaan.”

DIE BESTEMMING VAN JESUS CHRISTUS

Simeon ‘n ou man, was ‘n inwoner van Jerusalem. Voor hierdie gebeurtenis en hierna kom ons Simeon nie weer in die Bybel teen nie. Daar word nie verder weer iets van hom vertel nie. Wat ons weet is dat hy ‘n unieke man was. Hy was regverdig en vroom. Hy het aan ‘n deel van die volk behoort, wat op God vertrou en vertroosting verwag. Dit was ‘n man wat deur God geliefd was. God het die Heilige Gees aan hom geskenk. Sy doen en late was beheers deur God. Hy was vol van die Gees. Die Gees het aan hom bekend gemaak dat voordat hy gaan sterf, hy die Verlosser, vir Jesus sal sien. Op ‘n dag het die Gees vir Simeon na die tempel gelei. Op hierdie dag het Josef en Maria vir die pasgebore Jesus tempel toe gebring. Volgens die Joodse gebruike het hulle, hulle kinders tempel toe gebring om aan die Here voor te stel en om ‘n offer te bring. Toe hulle die tempel binnekom neem Sagaria die Kindjie Jesus in sy arms. Hy het geweet dat dit Hy, die Messias, is. Vanuit geloof neem hy die kind van sy ouers, en hy sing ‘n loflied. ‘n Besondere lied. Nadat hy hierdie lied gesing het, seën hy beide ouers en rig hy homself tot Maria as moeder en gee vir haar ‘n profesie oor haar kind. ‘n Besondere profesie. Vir die eerste keer in die evangelie word daar verwys na dié struikel en lyding wat gaan kom.

Die een sal ongelowig val voor Christus

Josef en Maria het voor hulle ontmoeting met Simeon by ‘n aantal geleenthede profesieë oor hulle Kind gehoor. Hulle het al boodskappe van die engel ontvang, en ook van die herders wat Jesus kom besoek het. Hierdie boodskappers het getuig oor wie die Kind werklik is, maar hierdie gebeurtenis in die tempel is ‘n indrukwekkende gebeurtenis. Maria en Josef staan verwonderd. Hulle hoor nou – Die Kind is bestemd tot ‘n val en ‘n opstanding van baie in Israel. Hartseer genoeg sal baie nie in Hom glo nie en sal voor Hom val.

Die ander sal gelowig opstaan in Christus

Simeon verklaar dat Jesus sal wees soos ’n klip waaroor sommige sal struikel en val, maar dit sal vir ander die moontlikheid gee om op te staan. Ons mag met vrymoedigheid getuig en bely, dat Jesus Christus vir ons ’n fondament is. Ons struikel en val nie oor Hom nie. Hy is die fondament waarop ons, onsself standvastig vestig. ’n Fondament waarop ons kan staan.

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com