Mattheus 5:17-20 & 23:1-12,25-28
‘Moenie eers daaraan dink dat Ek gekom het om die Wet of die Profete af te skaf nie. Ek het nie gekom om af te skaf nie, maar om te vervul.’
Die egtheid van die kerk
Dit kan gebeur dat die geloof ‘n teorie word. Iets waaroor daar gepraat word, wat met woorde probeer beskryf word. Wie God en die hemel daarbo is, maar sonder om rekening te hou dat Hy die lewende God is met wie daar in verhouding geleef word. Dan word teologie – die studie van God – ‘n teoretiese wetenskap. Lewe aan die buitekant word gereguleer, maar dit kom nie vanuit ‘n binnekant wat op God gerig is nie. Dan is dit alles eintlik oneg. Dit het in Israel gebeur. Onder leiding van die Fariseërs en wetgeleerdes. Hulle godsdiens het ‘n skynvertoning geword. Hulle optrede en lewens het nie in verhouding met die lewende God in die hemel gestaan nie. Dit wat hulle gedoen het, het hulle vir die mense om hulle heen gedoen. Dit het skielik verander. Met die koms van ons Here Jesus Christus na die aarde. Radikaal staan Hy teenoor die Fariseërs. Hy verkondig die lewe in die koninkryk van God. Kenmerkend van sy gemeentes is egtheid. Hulle beskik oor ‘n egtheid waarin die koninkryk van die hemele nou al hier op die aarde sigbaar word.
Egtheid van die leer
In die bergrede verkondig Jesus die wet van die koninkryk van God. In die verse wat hierop volg word dit met ses voorbeelde verduidelik. Hy begin die deel van die bergrede met die woorde: Moenie eers daaraan dink dat Ek gekom het om die Wet of die Profete af te skaf nie. Hy kom nie om te ontbind nie, maar om te vervul. Die ware leer is van uiterste belang. In die ware leer lei die Here ons op ‘n veilige pad deur hierdie lewe. In hierdie leer staan Jesus Christus sentraal. Die Wet en die Profete wys na Hom toe. Hy toon vir ons in die bergrede dat dit nog steeds van krag is in Hom. In aansluiting by die saligsprekinge sien ons waarop die fokus lê. Die geregtigheid kom van binne-uit. Met suiwer harte soek ons as kerk van die Here die egtheid van die leer. Daarvan getuig ons belydenisse. Die innerlike wat deur die Here verander is, word gekenmerk aan vrugte van die Gees, wat uiterlik sigbaar word.
Egtheid van die lewe
Die Fariseërs se dade het nie ooreengekom met dit wat in hulle harte was nie. Jesus sê oor hulle – ‘julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roofsug en onbeheerstheid.’ Die Verbondsgod eis ons lewens vir Hom. In ons dankbaarheidslewe is ons gerig op Hom. Daarin word die lewe van ‘n kind van die Here geken. So iemand is suiwer in leer en lewe. So ‘n kerk is ware kerk van Jesus Christus.
GESPREKSPUNTE
- Hoe het Jesus die wet en die profete tot vervulling gebring?
- Wat beteken dit om regverdig te wees? Hoe verskil Jesus Christus se geregtigheid van die manier waarop die Fariseërs en die skrifgeleerdes geregtigheid verstaan het?
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com