Skip to content
Menu

Lees Eksodus 4:18:31
Teks: Vers 24

GROEI IN VRYMOEDIGHEID WANT DIE HERE SE VERSORGING IS VAS EN SEKER.

Dit is arrogansie wat twyfel in ons verhouding met die Here bring.

Skielik wou die Here vir Moses doodmaak. Die een oomblik nog het die Here hom met groot geduld oortuig om Israel uit Egipte te lei. Die volgende oomblik, terwyl hy oppad is om die Here se opdrag te gaan uitvoer, is dit dieselfde Here wat sy lewe bedreig. Hoe kan die Here dan die een oomblik goedgesind wees en die volgende oomblik vyandig? Dit is nie die Here wat wisselvallig is nie. Die probleem is Moses se arrogansie. Nadat die Here hom daar by Horeb in die woestyn geroep het, kon daar by hom geen twyfel meer wees oor die onbeskryflike wonderwerke wat nou gaan plaasvind nie. Die Here wat met Abraham ʼn verbond gesluit het, gaan die heerlike beloftes wat Hy aan Abraham en sy nageslag gegee het, uitvoer. In hierdie uitvoering van hierdie beloftes, het God aan Moses ʼn besondere plek gegee. Een van Moses se kinders is egter nie besny nie. Die verbondsteken wat alles wat nou gaan gebeur, in perspektief stel, is nagelaat. Moses gaan nie Egipte toe as iemand vir wie die verbond erns is nie. Hy gaan as ʼn soort buitestaander, as ʼn soort amptenaar. Om só te gaan, is niks minder as arrogansie nie. Dit weerspreek alles wat hy nou moet gaan doen. Daarom die dreigende gevaar. Dit is arrogansie wat twyfel by gelowiges bring.

Sekerheid lê in die Here se reddingsdade.

Die Here wou Moses egter nie met die dreigende dood onseker maak of sy vrymoedigheid ontneem nie. Die teendeel is waar. Moses moes begryp waar sy sekerheid gesetel is. Lê sy sekerheid in sy gehoorsaamheid? As hy dus net gehoorsaam was en sy kind besny het, sou die Here hom nie met die dood gedreig het nie? Die besnydenis wat hy nagelaat het, getuig juis dat Moses se sekerheid nie gegrond is op sy gehoorsaamheid nie. Dit is die Hére wat met Abraham en sy nageslag ʼn verbond gesluit het. Dit is die Hére wat op die volk; op sy “eersgebore seun Israel” se ellende gelet het. Dit is Hý wat Moses voorberei het vir die taak wat voor lê en hom geroep het. Dit is Hý wat net met doodmaak gedreig het en nie vir Moses in sy arrogansie doodgemaak het nie. Die besnydenis wat Sippora inderhaas uitvoer, getuig van die Hére en sý reddingsdade. Die bloed wat vloei wanneer die kind besny word, getuig dat die Here nie die oordeel wat Abraham en sy nageslag verdien, oor hulle sal uitvoer nie. Die bloed getuig dat Hy in hulle plek sal voorsien. Uit die Nuwe Testament weet ons presies hoe die Here voorsien het. Die bloed van ons Here Jesus het gevloei in elkeen se plek oor Wie God Hom in genade ontferm het.

Groei daarom in vrymoedigheid en nie in voorbarigheid nie.

Laat ons wat ons beroep op God se dade groei in vrymoedigheid. Dit is nodig om:
• te groei in jou sekerheid dat jy deel uitmaak van die “eersgebore seun Israel”,
• meer en meer te reken op God se beskerming en
• al hoe meer, sonder arrogansie, vrymoedig in die krag van God op te tree.