Lees 2 Konings 4:1-7
Teks: vers 1
Hulle wat in God se guns is, kom sonder aanbod om met sy guns volgemaak te word.
Dit is in die wyse waarop mense na God toe kom, waar die paaie uitmekaar gaan.
Hoe sal ʼn mens vir jouself welvaart verseker? Hoe sal ʼn mens sorg dat dit goed gaan met jou nageslag? Op hierdie vrae sou baie Israeliete in Elisa se tyd ʼn duidelike antwoord gereed gehad het. Hulle sou antwoord dat jy, terwyl jy vashou aan die God wat Hom met magtige dade aan Israel openbaar het, tog vir die aardse voorsiening moet maak. Jy moes daarvoor ook die god van Kanaän, die god wat alles met die aardse dinge te doen het, dien. Sy guns kon jy op baie spesifieke maniere wen. Deur byvoorbeeld tempelprostitusie te beoefen of kinders te offer, kon jy hom oorreed om aan jou aardse behoeftes te voorsien. Hy kon, so is geglo, sorg dat daar kos op die tafel is en dat dit goed gaan met jou nageslag – twee sake wat vir hierdie vroue belangrik was.
Ons het verlede week gesê dat daar in hierdie vrou se huis nie net die erdekannetjie olie was nie. Daar was ook geloof. Wanneer hierdie gelowige vrou na Elisa kom, kom sy nie soos iemand wat Baal aanbid nie. Sy kom nie na God met ʼn aanbod nie. Sy kom nie met vol hande om God se guns te wen nie. Sy weet sy ís in sy guns. Omdat sy seker is van God se guns, kom vra sy by Hom hulp. Ook die wonder wat God aan hierdie vrou gee, spel hierdie feit uit. Sy moet leë houers gaan leen. Met houers wat niks in het, moet sy kom en daardie leë houers word deur God volgemaak.
Alleen so mag jy na die Nagmaal kom. Gelowige, jy is in God se guns. Hy het jou deur sy Seun onder sy guns ingetrek. Naas die prys wat die Seun betaal het, hoef niks – mag niks betaal word nie. Kom leeg van jou self na die tafel.
Wie sonder aanbod kom, word met God se guns vol gemaak.
Soos die houers een vir een vol word, is die vrou oor en oor verseker van die oorvloed van God se guns. Die God na Wie sy in haar nood gekom het, is ʼn God wat nie net magtige dade doen soos toe Hy sy volk uit hulle slawerny uitgelei het nie. Hy is ook ʼn God wat uit die hemel sy seëninge in oorvloed na sy kinders laat vloei.
Ons mag dink aan die Here Jesus se eerste wonder. Op die bruilof maak Hy Homself bekend as die bruidegom wat vir sy bruid, die kerk in oorvloed sorg. Van hierdie oorvloed word ons vanoggend by hierdie tafel verseker.