Lees Psalm 65
Teks: v.
As die realiteit van jou verhuising tot jou deurgedring het, sal jy met sekerheid oorvloed van God verwag.
Gelowige, laat die realiteit tot jou deurdring: jy het reeds verhuis!
Dawid skryf in vers 5 van ʼn baie besondere verhuising. Hy verwys duidelik na gelowiges wat in die ou bedeling na die tempel gekom het om te aanbid en te offer. Dit is egter duidelik dat Dawid meer in die oog het as bloot die gebeure van aanbidding en die offers wat gebring word. Hy praat immers van om in die tempel te “bly/woon.” Hy verwys dus na ʼn permanente soort verhuising. Dit gaan egter nie eintlik oor die tempel self nie. Dit gaan oor God wat op ʼn besondere manier in die tempel teenwoordig was. Dit gaan dus oor permanente inwoning by God Self. Dawid maak dit ook duidelik hoe hierdie verhuising plaasvind. Dit is die mense wat God “uitkies” en wat Hy “laat naderkom”, wat permanent by Hom kom woon.
In die Nuwe Testament leer ons nog meer van hierdie verhuising. In Christus verkies God ons uit en maak Hy ons geskik om te kan verhuis. Deur die Heilige Gees maak Hy hierdie verhuising ʼn realiteit wanneer die Gees my wederbaar en aan my geloof gee. Deur Christus en die Gees maak die Vader my verhuising ʼn realiteit. Gelowige, laat die realiteit tot jou deurdring: jy het reeds verhuis!
Dan verwag jy met sekerheid in die nuwe jaar oorvloed van God.
Wanneer die realiteit van my verhuising tot my deurgedring het, groei my verwagtinge. Dawid praat van “goeie dinge” en van “oorvloed” (vgl. v. 5). In vers 1 laat die oorspronklike taal iets baie besonders blyk van hierdie verwagting. Dit is ʼn stil en sekere verwagting. Die verwagting is ʼn voordurende ondertoon in my lewe. Wanneer God my laat nader kom het, as Hy my by Hom laat tuiskom het, verwag ek met sekerheid van Hom goeie dinge en oorvloed. Is dit hoe jy die nuwe jaar benader? Vol verwagting? Jy mag. Jy moet.
Die oorvloed wat jy verwag, is ware oorvloed.
Wat is hierdie oorvloed wat ons verwag? Hoewel dit duidelik is dat hierdie Psalm ten nouste verbind is met oestyd en God wat sy hand oopmaak dat daar ʼn oes sal wees, is die oorvloed nie daarin geleë nie. Let op die volgende sake van oorvloed:
- God is ʼn Hoorder van gebed (v. 2);
- Ek leef in sy teenwoordigheid (v.1-5);
- Sondaars ontvang vrymoedigheid om na God te gaan (v. 3);
- Let op “alle” mense (v. 3);
- Vrylating wanneer ons sondes ons inhaal (v.3);
- ʼn Nuwe lewe van trou aan die Here (v.1).