Skip to content
Menu

God se erfgename leef in (ware) weelde en is nie van krummels afhanklik nie.

Lees Rigters 1:1-7
Teks: vers 7

Die aanslag teen die erfgename is: “Maak hulle van krummels afhanklik.”

Die barbaarse gebruik om gevangenes se groottone en duime af te sny, was iets wat in die ou wêreld voluit in gebruik was. Deur dit te doen, is gesorg dat mense wat so geskend is, nie meer kon veg nie. Hulle kon immers nie in ʼn geveg vryelik beweeg nie en ook nie ʼn swaard, spies of pyl en boog behoorlik hanteer nie. Die werklike resultaat van die skending was egter dat die geskende persone afhanklik geword het. Hulle moes soos honde onder die tafel sit en vir krummels bedel (v. 7).

Toe Israel se eerste stam (Juda) hulle grondgebied moes inneem, het daar ʼn aanslag teen hulle gekom van ʼn heerser met die naam Adoni-Besek. Adoni-Besek het nie in die gebied wat Juda moes inneem, gewoon nie. Besek was buite Juda se gebied. Adoni-Besek was iemand wat andere met geweld van hom afhanklik gemaak het deur hulle te skend (v.7). God het aan sy volk die land Kanaän gegee en noudat die eerste stam sy grondgebied moet inneem, val Adoni-Besek Juda aan om hulle (en natuurlik ook die ander stamme) van hom afhanklik te maak. God is besig om sy ryke beloftes aan sy volk in vervulling te laat gaan en die vyand poog om hulle van krummels afhanklik te maak. Die aanslag teen God se erfgename is: “Maak hulle van krummels afhanklik.” In watter mate is ons tevrede met die krummels wat die wêreld bied?

Kry duidelik perspektief op wat krummels is en wat ware weelde is, gelowige.

Terwyl Adoni-Besek die een is wat afhanklik word van krummels, laat God deur sy genade die rykdom van sy beloftes in vervulling gaan wanneer Hy Juda die beloofde grondgebied laat erf. Die ware weelde van die grondgebied wat elke stam ontvang het, is egter nie die grond nie. Wanneer die grond en die voorspoed wat dit mag bring, verselfstandig word, word dit ʼn teken van afhanklikheid van krummels. Die ware weelde wat Israel ontvang het, was die teenwoordigheid van die Een wat hulle die land laat erf het. Ware weelde is om jou in God se liefdevolle aandag te verheug, jou te verwonder oor sy onverstaanbare lankmoedigheid, jou te koester in sy getroue beskerming en te bou op sy beloftes vir die toekoms.

Neem jou erfenis in besit, want God gee aan jou vaardige hande en voete.

Adoni-Besek kon spog met sewentig konings wat hy met geweld weerloos en van hom afhanklik gemaak het. Hy kon dit egter nie met Juda doen nie. Hoekom nie? Die Here het Juda se vyande in sy mag oorgegee (vgl. v. 4). Moes Juda dus maar net wag tot die Here dit doen? Nee, Juda moes gaan veg (vgl. v. 4). En juis as gevolg van Adoni-Besek was dit geen maklike geveg nie. Voordat die stam Juda na die grondgebied kon gaan wat God aan hom gegee het, moes hy eers na Besek gaan en teen Adoni-Besek – wat ʼn groot bedreiging ingehou het – gaan veg. Deur die vaardige hande en voete wat die Here aan hulle gegee het, moes hulle die beloofde erfenis in besit neem. Deur die Heilige Gees gee die Here ook aan ons vaardige hande en voete om die erfenis wat ons ontvang het, in besit te neem