Skip to content
Menu

Insig in die gesag waarmee Jesus optree, verander jou lewe.

Lees Lukas 7:1-10

 Teks: vers 9

Insig in die gesag ágter Jesus se gesag, lei tot ʼn nederige afhanklikheid.

Jesus vergelyk ʼn nie-Jood, die Centurion, se geloof met die geloof van die Jode.  Hy doen dit nie in die geheim nie, maar voor almal. Hy maak bekend dat hy nie in Israel so ʼn groot geloof teëgekom het soos die nie-Jood se geloof nie. Dit val op dat Jesus hierdie evaluering bekend maak nadat die Centurion Jesus se gesag met sy eie gesag vergelyk het.  Die offisier het daarop gewys dat hy onder gesag staan en dat hy daarom sy spesifieke opdrag moet uitvoer. Hy beklemtoon egter dat hy in die uitvoering van sy gesag, ook mag het om die gesag wat hy het, tot uitvoering te bring. Dit weet hy, is ook so by Jesus. Die Centurion toon daarmee saam insig dat Jesus ook gesag ontvang het en Hy die mag het om dit uit te voer. Hierdie man het iets begryp van die gesag waarmee Jesus in sy koms na hierdie aarde deur die Vader beklee is en dat Hy die mag het om hierdie gesag af te dwing. Dit verklaar ook die Centurion se nederige afhanklikheid van Jesus (vgl. vv. 3 6). Insig in die gesag ágter Jesus se gesag, lei tot ʼn nederige afhanklikheid.

 

Insig in die doel van die gesag wat Jesus ontvang het, verander jou doelstellings.

Dit val op dat in die verhaling van hierdie genesing van die Centurion se slaaf, die genesing self nie werklik aandag ontvang nie. By die gebeure stel Jesus ʼn ander genesing op die voorgrond, naamlik die genesing van die nie-Jood. Hy het ʼn groter geloof as wat Jesus in Israel gevind het. Die Centurion het begin verstaan waarom die Man wat Hy as Jesus leer ken het, op aarde is. Hy het iets van God se doel met die sending van sy Seun verstaan.  Die Centurion se liefde vir die volk Israel – dié volk uit wie die Messias sou kom – en die feit dat hy die sinagoge – waar die ware God aanbid is – gebou het (vgl. v. 5), getuig waarskynlik van die begrip wat hierdie man gehad het.  Die genesing van die Centurion se slaaf was eintlik net ʼn teken van die ware genesing wat Jesus op aarde kom bewerk het. Daarop vestig Jesus die mense wat agter hom aangekom het, se aandag. Hulle moet begryp dat God sy Seun met gesag beklee het om ware herstel te bring.  Daardie herstel moet in gelowiges se eie lewe sigbaar wees en hulle moet ook daarop gerig wees dat dit in andere se lewe sal gebeur.

 

Insig dat sy gesag met ʼn magswoord uitgevoer word, lei tot vertroue in Jesus se woord.

Die Centurion sê dat Jesus net ʼn “woord” kan sê en die slaaf sal gesond wees.  Uit sy eie lewe het hy verstaan dat ʼn woord mag kan hê (vgl. v. 8). Wanneer Jesus ná sy dood en opstanding sy apostels uitstuur, stuur Hy hulle ook uit met ʼn magswoord – ʼn woord wat deur die werking van die Gees in hierdie wêreld herstel bring.  Daardie magswoord het ons verander en daardie magswoord moet ons verkondig.