Skip to content
Menu

Op ʼn helder insig en ʼn helder belydenis volg die sien van groter dinge.

Lees Johannes 1:43-51

Teks: vers 51

Gelowiges moet nie volstaan met ʼn helder insig en ʼn helder belydenis nie.

Jesus sê baie mooi dinge van Natánael. Anders as die aartsvader Israel (Jakob), is Natánael ʼn Israeliet sonder bedrog. Hierdie man kom ook baie vinnig tot ʼn helder insig oor Jesus en bely Hom as die Seun van God en die Koning van Israel. Dit is egter opmerklik dat Jesus nie met hierdie insig en belydenis van Natánael volstaan nie.  Hy sê dat Natánael nog groter dinge sal sien. Hoewel Natánael dus met sy insig en belydenis reeds vêr op die geloofspad gevorder het, is dit nie die einde van die pad nie. Op sy helder insig en sy helder belydenis, sal die sien van groter dinge volg. Ook ons kom vanoggend by die Nagmaal as kinders van God met ʼn helder insig en ʼn helder belydenis. Ook vir ons is die helder insig en die helder belydenis nie die einde van die geloofspad nie. Met die Nagmaal laat ons Here ons telkens duidelik die groter dinge sien wat Hy geopenbaar het.

Die sien van groter dinge gaan oor die Seun van die mens wat ʼn oop hemel bewerk.

In vers 51 verduidelik Jesus wat die “groter dinge” is wat Natánael sal sien. In Jesus se verduideliking kon die “Israeliet sonder bedrog” (en ander gelowiges) die eerste Israeliet se droom van die leer wat op die aarde staan, waarvan die punt aan die hemel raak en waarteen die engele op en af klim, herken. Hoewel God deur die droom heerlike dinge aan Jakob geopenbaar het, was dit maar net ʼn skaduwee van die “groter dinge” waarvan Jesus praat. In Jakob se droom het die punt van die leer aan die hemel geraak. Jesus sê dat Natánael en die ander gelowiges die hemel oop sal sien. Anders as in Jakob se droom, vertel Jesus dat die engele op en af sal klim na die “Seun van die mens” – ʼn benaming wat Jesus telkens vir Homself gebruik.  Hierdie benaming moet verstaan word in die lig van Daniël 7 (vgl. spesifiek vers 13). Die benaming dui eerstens op ʼn hemelse oorsprong op heerlikheid (vgl. “in die wolke … aangekom” in Dan. 7:13). Dit dui egter terselfdertyd ook op mensheid, nederigheid en op lyding.

Dit is deur die koms van hierdie Seun van die mens dat die hemel oopgaan.

Deur die Seun van die mens kom die hemel na die aarde.  God kom woon in Hom onder die mense (vgl. Joh. 1:14).  Hy is egter nie die enigste “hemeling” hier op aarde nie. Deur sy koms kry mense (ware gelowiges) die reg om kinders van God te word (vgl. Joh. 1:12). Hier woon dus nou hemelinge – dit is kinders van God – op aarde.

Die Seun van die mens bring egter ook die aarde na die hemel. Hy wat ook ware mens is, leef op aarde in die aller nouste verhouding met sy Vader. Deur die lydenspad wat Hy loop, verkry Hy vir ander die toegang tot die hart van die Vader. Op aarde is daar nou mense met “vrye toegang” (vgl. Heb. 10:19) tot die hemel.