Skip to content
Menu

Lees Johannes 20:19-31                           Teks: vers 29b

 

Sékerheid is lofwaardig, nie twyfel en betwyfeling nie.

Anders as wat Jesus leer, word twyfel en betwyfeling tans aangeprys.

Dit gebeur deesdae dikwels dat mense wat voorheen in alle erns hulle geloof bely het, in die openbaar juis die dinge wat hulle bely het, bevraagteken. Soms is dit mense wat in die kerke as voorgangers gedien het. Aan hierdie bevraagtekening word veral deur die Afrikaanse gedrukte media groot aandag gegee. Mense wat getrou vashou aan dit wat die Skrif leer (en wat deur die eeue bely word), word dan gewoonlik geskets as mense wat nie vir hulle self dink nie en wat maar net tradisioneel die Skrif glo. Die twyfelaars is dus die denkers en die ingeligtes terwyl die mense met sekerheid die mense is wat nog moet koers kry. Ons Here sê egter presies die teenoorgestelde.  Aan die groot twyfelaar, Thomas sê Hy: “Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.” Hierdie is een van die min saligsprekings in die Johannes-evangelie. Nie twyfel of betwyfeling moet aangeprys word nie, maar sekerheid.

 

Gee daarom gehoor aan die persoonlike aandag van Jesus Christus.

Maar wat doen ʼn gelowige wat begin twyfel of dalk nog altyd onseker is in die geloof? In die gedeelte wat ons gelees het, staan die persoonlike aandag wat ons Here aan Thomas gee, sterk op die voorgrond. Die Here soek hom eerstens op deur die ander dissipels wat vir hom sê dat hulle die Here gesien het. Daarna besoek die Here Hom sigbaar waar Thomas saam met die ander dissipels is. Die Here gee persoonlike aandag aan die twyfelaar. Hieroor kan ons drie sake uit die gedeelte wat ons gelees het, uitlig:

Wie vasklou aan twyfel en betwyfeling, verwerp die persoonlike aandag van die Here.

Die probleem met Thomas was nie dat hy getwyfel het nie, maar dat hy vasgeklou het aan sy twyfel. Let op die eise wat hy in detail stel voor hy sal glo. Dit wat Hy gesien het met die Here gebeur; die spykers en gate wat dit veroorsaak het, die wond aan Jesus se sy; staan vir hom op die voorgrond en daarvan laat hy nie sy gedagtes gaan nie – selfs tot die volgende Sondag! Hy het dus eintlik die persoonlike aandag wat die Here deur die ander dissipels aan hom gegee het, verwerp en vasgeklou aan sy twyfel. Wie vasklou aan twyfel en betwyfeling, verwerp die persoonlike aandag van die Here.

Luister met gespitste aandag na die blye boodskap.

Aan Thomas is die blye boodskap verkondig dat die Here opgestaan het. Dit wat aan hom verkondig is, was nie gegrond op raaiwerk nie.  Aan sy eis dat hy wil sien, is eintlik voldoen.  Die Here het immers sy hande en sy sy aan die dissipels gewys. Thomas het nie met gespitste aandag na die blye boodskap geluister nie. Wanneer twyfel opdaag, luister weer opnuut met gespitste aandag na die evangelie.

Bid vir die kragtige werk van die Heilige Gees in jou.

Die wyse waarop Jesus se persoonlike aandag by ons tuiskom, is deur die Heilige Gees (vgl. 20:22 en 16:13-15). Bid daarom altyd vir die kragtige werk van die Heilige Gees in jou.