Skip to content
Menu

Oggend 3 Desember 2017                       Lees: Miga 4:14-5:14                       Teks: vers 4a

Terwyl ek midde in onvrede leef, is die Heerser-herder wat vrede is, my vrede.

Die Heerser uit Betlehem is vrede en ook my vrede.

Ons het verlede week gesê dat Miga duidelik maak dat die Heerser wat uit Betlehem sal kom, ook ‘n herder sal wees. Miga gee nog meer aangrypende inligting van hierdie grootse Heerser-herder. Hy sal ook vrede wees (v. 4). Hy, in sy persoon, sal vrede wees. Ook Jesaja verwys so na Hom. Wanneer Hy Hom “Vredevors” noem (Jes. 9:5). Uit die NT is dit duidelik dat hierdie Een wat vrede is, Jesus Christus, ook die Een is wat vrede gee. Jesus sê uitdruklik aan sy volgelinge: “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle” (Joh. 14:27). In Efesiërs 2:14 word spesifiek van Jesus Christus beklemtoon “Hy is ons vrede.”

Natuurlik is Hy eerstens ons vrede omdat Hy as die Goeie Herder sy lewe vir ons afgelê het en die vyandskap tussen ons en God weggeneem het. Deur sy offer is daar vrede tussen ons en God. In Miga 5:4-8 word die vrede wat die Een uit Betlehem aan sy kudde sal gee, uit ‘n ander hoek belig. Omdat die Heerser-herder uit Betlehem vrede is, (i) het sy kudde vrede te midde van die onvrede op aarde (vv. 4-5) en (ii) het sy kudde hulle wat sonder vrede is, in die oog (vv. 6-7).

Omdat die Heerser-herder my vrede is, het ek vrede in ‘n wêreld vol onvrede.

Die koms van die Heerser-herder uit Betlehem en die feit dat Hy vrede is, beteken nie dat sy koms alle vyandskap op aarde wegneem nie. In vers 4 word duidelik verwys na Assur se vyandigheid. “Assur” verwys nie net na Assirië van Miga se tyd nie, maar na alle volke en regeerders wat die kudde – die ware gelowiges – van die Heerser-herder aanval. Wanneer dit gebeur, sal die kudde nie weerloos wees nie. Miga stel die kudde aan die woord. Die kudde sê dat hulle sewe herders, ja, agt vorste teen die magte stel. Hulle sê daar sal genoeg, daar sal ‘n oormaat beskermers wees sodat die kudde nie uitgeroei word nie. Hierdie is nie ‘n verklaring vol selfvertroue nie. Uit vers 5 is dit duidelik dat die Heerser-herder uit Betlehem dit moontlik maak dat daar beskerming vir die kudde sal wees (let op “Hy sal” in vers 5). Dit is ‘n uitspraak vol vertroue in die Heerser-herder. Let ook op: die Heerser-herder gee nie net beskerming nie, maar die kudde dring ook in die vyand se geledere in.

Omdat ons Heerser-herder vrede is, versink ek nie in vrees en wanhoop vanweë die onvrede in die wêreld waarin ons leef nie.

Omdat Hy my vrede is, het ek die mense sonder vrede in die oog.

Nie alle mense ken die Heerser-herder en die vrede waarin sy kudde deel nie. As die Heerser-herder egter my vrede is, sal ek die mense sonder vrede in die oog hê. Die mense wat volhard in die ware geloof (vgl. “oorblyfsel”), sal onder die volke soos dou van die HERE, soos reënbuie op plante wees (v. 6). Soos die dou en reën lewe gee, sal die gelowiges lewe na die mense vol onvrede bring. Hoewel die gelowiges die seën na mense bring, is die seën, soos met dou en reën, eintlik van die Here (vgl. v. 6d).

Maar die gelowiges bring nie alleen die lewe na die volke nie, maar ook die dood. Hulle wat volhard in die geloof is soos leeus wat vertrap en verskeur. Wanneer die ongelowiges die dou en reën wat gelowiges bring en wat van die HERE af kom, verwerp, word die gelowiges die draers van die dood. Alleen deur die Heerser-herder kan ‘n mens die lewe ontvang, maar wie Hom verwerp is weerloos op pad na die dood.

Omdat die Heerser-herder my vrede is, dra ek met ywer die boodskap van die lewe en waarsku ek dat hierdie boodskap, wanneer dit verwerp word, ‘n boodskap van die dood is