Riglyne vir Bybelstudie vir Donderdag 23 Augustus 2018
Lees Lukas 11:1-13 soos dit hier onder in die 1983 Afrikaanse Vertaling weergegee word. Die klem van die Bybelstudie sal op vers 9-13 val.
Lukas 11:1-13
1 Jesus was êrens op ‘n plek besig om te bid. Toe Hy klaar was, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy volgelinge geleer het.”
2 En Hy sê vir hulle: “Wanneer julle bid, sê dan:
“Vader, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom. 3 Gee ons elke dag ons daaglikse brood; 4 en vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie.”
5 Verder sê Hy vir hulle: “Sê nou een van julle het ‘n vriend, en jy gaan in die middel van die nag na hom toe en jy vra: ‘Vriend, leen my bietjie drie brode, 6 want ‘n vriend van my wat op reis is, het by my aangekom, en ek het niks om vir hom voor te sit nie.’ 7 En die ander antwoord van binne af: ‘Moet my nie lastig val nie! Die deur is al gesluit, en ek en my kinders is al in die bed. Ek kan nie opstaan om dit vir jou te gee nie …’ 8 Ek sê vir julle: Al sou hy nie opstaan en dit vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en hom alles gee wat hy nodig het, omdat hy hom nie skaam om aan te hou vra nie.
9 “Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word. 10 Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. 11 Is daar ‘n pa onder julle wat as sy seun vir hom ‘n vis vra, vir hom ‘n slang sal gee in plaas van die vis? 12 Of as hy ‘n eier vra, vir hom ‘n skerpioen sal gee? 13 As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.”
Gee in u voorbereiding aandag aan die volgende sake:
- In vers 9 beklemtoon die Here Jesus sy eie gesag. Motiveer (Let op: Hy doen dit ook in vers 8).
- In vers 9 word God se Naam nie uitdruklik genoem nie. Daar word in die vers egter wel verwys na wat God doen. Motiveer.
- Jesus het inderdaad die reg en kennis om met gesag te sê wat in die hemel gebeur wanneer gelowiges bid. Motiveer.
- Die woordjie “elkeen” in vers 10 is baie veelseggend. Motiveer.
- Met die vergelyking wat Jesus in verse 11-13 tref, beklemtoon hy dat God nie altyd presies dit wat gelowiges van Hom vra, sal gee nie. Wanneer sal God volgens vers 11-13 nie presies dit wat ons vra, vir ons gee nie?
- Hoekom voldoen God soms, volgens die vergelyking in verse 11-13 nie aan die versoeke van sy kinders nie, al “vra”, “soek” en “klop” hulle?
Al sou ek as gelowige nie altyd dit wat ek van God vra, ontvang nie, verseker Jesus my volgens vers 13 dat God aan my meer gee as wat ek ooit nodig sal kry. Ek ontvang die Bron van alles waarvoor ‘n kind van die hemelse Vader kan vra, soek en klop. Motiveer uit vers 13.