Skip to content
Menu

Bybelstudie met die oog op Sondag 21 April 2019

Lees Johannes 20:1-18.  Die klem in die Bybelstudie sal val op verse 11-18 en dié verse word hier onder weergegee.

Johannes 20:11-18

11 Maar Maria het buite by die graf bly staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk om in die graf in te kyk. 12 Toe sien sy twee engele met wit klere aan daar sit waar die liggaam van Jesus gelê het, een waar die kop en een waar die voete was. 13 Hulle vra toe vir haar: “Mevrou, waarom huil jy?”

Sy antwoord hulle: “Omdat hulle my Here weggevat het en ek nie weet waar hulle Hom nou begrawe het nie.”

14 Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en vir Jesus daar sien staan, maar sy het nie geweet dat dit Hy is nie.

15 Jesus vra haar toe: “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?”

Sy het gedink dit is die tuinopsigter, en sy het vir hom gesê: “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.”

16 Jesus het vir haar gesê: “Maria!”

Sy draai na Hom toe en sê in Hebreeus vir Hom: “Rabboeni!” Dit beteken leermeester.

17 Jesus sê toe vir haar: “Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie. Maar gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is.’ ”

18 Maria Magdalena het toe vir die dissipels gaan sê: “Ek het die Here gesien!” En sy het ook vertel wat Hy vir haar gesê het.

Gee in u studie aan die volgende sake aandag:

1.   Wat weet ons uit die Skrif van hierdie Maria Magdalena? (Lees bv. Lukas 8:1-2).

2.   Dit is opvallend dat Maria, nadat sy die twee apostels gaan roep het (v.2), nie in hoop-loosheid huis toe gegaan het nie. Sy het egter ook nie met hoop teruggekeer na die leë graf nie.  (motiveer uit 11).

3.   Maria ontvang van die twee engele in die graf ‘n ligte vermaning.  Motiveer uit vers 12-13.

4.   Noem ‘n paar moontlikhede hoekom Maria Jesus nie dadelik herken het nie.

5.   Jesus vra dieselfde vraag aan Maria as die engele maar lei Maria ook met ‘n opvolg vraag om oor meer te dink as wat die engele gevra het.  Motiveer uit vers 15.

6.   Hoe lei Jesus vir Maria volgens vers 16 om Hom te herken en wat is Maria se reaksie volgens vers 16?

7.   Wat kan ons aflei uit vers 17 waarom Maria nie vir Jesus moet vashou nie?

8.   In die boodskap wat Maria moet gaan oordra val die klem nie op die feit dat Jesus opgestaan het nie.  Wat is wel die belangrike punt van die boodskap waarmee sy gestuur word?

9.   Uit vers 17 maak Jesus bekend dat Hy besig is met die hemelvaart.  Die hemelvaart is as’t ware aan die gebeur hoewel dit eers ‘n ruk daarna ‘n realiteit sal word.  Motiveer uit vers 17.

10.        Dit wat Johannes van Maria in vers 18 berig, staan in skrille kontras met die Maria wat volgens 11 by die leë graf bly staan en huil het.  Motiveer uit vers 11.