Skip to content
Menu

Lees Rut 1-2 soos hier onder weergegee.  Die klem sal in die Bybelstudie op hoofstuk 2 val.

Rut 1-2

1:1 In die tyd van die leiers was daar op ‘n keer hongersnood in die land, en ‘n man met sy vrou en sy twee seuns het uit Betlehem in Juda weggetrek om ‘n heenkome te soek in die gebied van Moab. 2 Die man was Elimelek, sy vrou Naomi, en sy twee seuns Maglon en Kiljon. Hulle was afkomstig uit Efrata in Betlehem in Juda. Hulle het in Moab aangekom en hulle daar gevestig. 3 Toe Naomi se man, Elimelek, sterf, het sy en haar twee seuns alleen agtergebly. 4 Die twee seuns het later getrou met die Moabitiese meisies Orpa en Rut. Naomi en haar seuns het omtrent tien jaar in Moab gebly. 5 Toe haar twee seuns Maglon en Kiljon ook sterf, het sy alleen agtergebly sonder haar seuns en sonder haar man. 6 Toe sy verneem dat die Here vir sy volk uitkoms gebring het deur vir hulle ‘n goeie oes te gee, het sy en haar skoondogters klaargemaak om van Moab af terug te gaan. 7 Sy en haar skoondogters het saam vertrek uit die plek waar hulle gebly het, op pad na Juda toe.

8 Toe sê Naomi vir haar twee skoondogters: “Julle moet liewer teruggaan na julle ouerhuise toe. Mag die Here sy liefde aan julle bewys, soos julle aan die oorledenes en aan my liefde bewys het. 9 Mag die Here vir julle elkeen weer ‘n goeie man en ‘n heenkome gee.”

Toe sy van hulle wou afskeid neem, het hulle begin huil 10 en vir haar gesê: “Nee, ons wil met Ma saamgaan na Ma se volk toe.”11 Maar Naomi het weer vir hulle gesê: “Gaan terug, my dogters. Waarom sou julle saam met my wou kom? Het ek nog enige hoop om seuns in die wêreld te bring, sodat julle met hulle sou kon trou? 12 Gaan asseblief maar terug, my dogters, ek is te oud om weer te trou; selfs al sou ek sê daar is nog hoop vir my, al sou ek vannag by ‘n man slaap, al sou ek nog seuns in die wêreld bring, 13 sou julle kon wag tot hulle groot is? Sou julle julle ondertussen daarvan kon weerhou om te trou? Dit is onmoontlik, my dogters. Nee, my lot is swaarder as julle s’n: die Here het teen my gedraai.”

14 Toe het Naomi se skoondogters weer begin huil, en Orpa het van haar afskeid geneem, maar Rut het by haar gebly. 15 Toe sê Naomi: “Kyk, jou skoonsuster het teruggegaan na haar volk en na haar gode toe. Gaan jy nou ook saam met haar terug.”

16 Maar Rut het geantwoord: “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; 17 waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê ‘n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei.”

18 Naomi het besef dat Rut vasbeslote was om saam met haar te gaan en sy het opgehou om haar te probeer ompraat. 19 Hulle twee is toe saam na Betlehem toe. Met hulle aankoms in Betlehem was daar groot opgewondenheid in die stad, en die vrouens het gesê: “Maar dis mos Naomi!”

20 Hierop het Naomi vir hulle gesê: “Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara, want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak. 21 My lewe was vol toe ek hier weg is, maar die Here het my leeg laat terugkom. Waarom noem julle my nog Naomi? Die Here het dan teen my gedraai, die Almagtige het ‘n ramp oor my gebring.”

22 So het Naomi uit Moab teruggekom en Rut, haar Moabitiese skoondogter, was by haar. Hulle het in Betlehem aangekom aan die begin van die garsoes.

2:1 Naomi het ‘n vermoënde familielid gehad van haar man Elimelek se kant af. Sy naam was Boas. 2 Rut, die Moabitiese vrou, vra toe vir Naomi: “Mag ek lande toe gaan om are op te tel by iemand wat my toelaat om dit te doen?”

Naomi antwoord haar: “Gaan gerus maar, my dogter.”

3 Sy het toe geloop om in die land te gaan are optel agter die graansnyers aan. Sy het uitgekom by dié deel van die land wat behoort het aan Boas, die familielid van Elimelek. 4 Boas het toe juis self uit Betlehem daar aangekom en hy het vir die snyers gesê: “Mag die Here by julle wees,” en hulle het hom geantwoord: “Mag die Here u seën.”

5 Boas vra toe vir sy voorman: “Wie is daardie meisie?” 6 en hy antwoord: “Sy is ‘n Moabitiese meisie wat saam met Naomi van Moab af gekom het. 7 Sy het gevra of sy are agter die snyers mag optel. Sy het toe gekom en is nog al die tyd besig van vanmôre af tot nou toe. Sy rus nou net ‘n bietjie.”

8 Boas sê toe vir Rut: “Luister, my dogter, moenie op ‘n ander land gaan are optel nie; moet ook nie hier weggaan nie. Bly hier by die meisies. 9 Bly op die land waar hulle oes, en volg hulle. Ek het die mans aangesê om jou nie lastig te val nie. En wanneer jy dors is, gaan na die waterkruike toe en drink van die water wat die werksmense vir hulle geskep het.”

10 Rut het diep gebuig voor Boas en gevra: “Waarom is u so goed vir my en stel u belang in my, in ‘n buitelander?”

11 Boas antwoord haar toe: “Ek weet van alles wat jy vir jou skoonma gedoen het na die dood van haar man en dat jy jou ouers en jou geboorteland verlaat het en na ‘n volk toe gekom het waarvan jy vantevore niks geweet het nie. 12 Mag die Here jou beloon vir wat jy gedoen het. Mag jy ‘n welverdiende beloning ontvang van die Here die God van Israel onder wie se vleuels jy kom skuil het.”

13 Sy het geantwoord: “Meneer, u bewys my ‘n guns, u laat my goed voel, u is vriendelik met my, al is ek nie eers een van u slavinne nie.”

14 Toe dit etenstyd was, sê Boas vir haar: “Kom hierheen en eet ‘n stukkie brood en doop dit in die wynsous.”

Sy het toe by die snyers gaan sit, en Boas het vir haar gebraaide koring gegee. Nadat sy genoeg geëet het en selfs oorgehou het, 15 het sy opgestaan om weer te gaan are optel. Boas het sy werkers toe beveel: “Sy mag selfs tussen die gerwe are optel en julle mag haar nie pla nie; 16 julle moet ook van die are uit die gerwe haal en dit op die grond laat val. Sy mag dit optel sonder dat julle haar daaroor aanspreek.”

17 Rut het tot die aand toe are opgetel in die land. En toe sy uitslaan wat sy opgetel het, was dit ongeveer dertien kilogram. 18 Sy het dit gevat en saamgeneem stad toe. Haar skoonma het gesien hoeveel sy bymekaargemaak het. Rut het ook van die kos wat sy oorgehou het, vir haar skoonma gegee.

19 Haar skoonma vra haar toe: “Waar het jy vandag are opgetel en wat het jy alles gedoen? Mag dié een wat in jou belang gestel het, deur die Here geseën word.” Sy het toe vir haar skoonma vertel wat sy gedoen het en dat die man by wie sy die dag gewerk het, se naam Boas is.

20 Naomi sê toe vir haar skoondogter: “Mag hy geseën word deur die Here wat nie nalaat om sy trou aan lewendes en dooies te bewys nie. En,” het Naomi bygevoeg, “hierdie man is familie van ons. Hy is een van ons lossers.”

21 Rut, die Moabitiese vrou, sê toe: “Hy het ook nog vir my gesê ek moet by sy werksters bly totdat hulle klaar geoes het.”

22 Hierop sê Naomi vir haar: “Dit is goed vir jou, my dogter, dat jy saam met sy werksters uitgaan. Op ‘n ander land sal jy dalk gemolesteer word.”

23 Rut het toe saam met die werksters van Boas are opgetel totdat die gars- en koringoes ingesamel was. Sy het nog by haar skoonma gewoon.

Gee aan die volgende sake aandag:

  1. Naomi sê volgens 1:1 dat haar lewe “vol” was toe sy uit Juda weggetrek het, maar dat haar lewe “leeg” was toe sy teruggekom het. Verduidelik uit 1:1-19 waarna sy verwys.
  2. Dit is baie duidelik dat Naomi nie dink dat alles wat in haar lewe verkeerd geloop het, “toevallig” gebeur het nie. Sy sê op ‘n uiters skerp manier Wie dit eintlik is wat teen haar opgetree het. Motiveer uit 1:20 en ook uit 1:21.
  3. In 1:22; 2:2; 2:5; 2:10; 2:21 word een belangrike (negatiewe) beskrywing van Rut telkens op die voorgrond gestel. Verduidelik.
  4. Vergelyk Naomi se antwoord aan Rut in 2:2 met haar antwoord aan Rut in 2:22. Watter verskil merk u op en wat lei u af uit hierdie verskil?
  5. Uit 2:2 kan ‘n mens amper dink die skrywer sê dat Rut “toevallig” by ‘n land uitgekom het wat aan ‘n familielid van Naomi se oorlede man behoort het.  Motiveer.
  6. Toe Naomi hoor wat tussen Rut en Boas gebeur het, was sy oortuig dat dit nie “toevallig” gebeur het dat Rut by Boas se land uitgekom het nie.  Motiveer uit 2:18-20.
  7. Watter kontras bemerk u tussen Naomi se standpunt volgens 1:21 en haar standpunt volgens 2:20?
  8. Boas het Rut se koms na Juda op ‘n baie besonderse manier verstaan.  Noem uit 2:11-12 ‘n paar dinge wat Rut volgens Boas gedoen het.

Omdat Boas verstaan het wat Rut gedoen het toe sy na Juda gekom het, is sy wens dat die Here haar sal beloon (vgl. 2:11-12).  Die Here doen dit inderdaad ook en dan juis deur middel van Boas self. Motiveer uit 2:8; 2:14-16 en 2:23.