Skip to content
Menu

20 Oktober 2019. Lees 1 Korintiërs 10:1-6 en 11:1-6 Teks: 10:4a
Voer die oorlog met goddelike wapens wanneer mense in hulle denke verlei is.

Niks minder as oorlog nie wanneer mense in hul denke verlei is.
‘n Mens verbaas jou hoe mense wat graag as Christene bekend wil staan, standpunte of lewenswyses wat direk met die Skrif in stryd is, met beslistheid kan stel en verdedig. ‘n Soortgelyke probleem het by die gemeente in Korinte aan wie Paulus sy brief rig, ontstaan. Vals apostels het Paulus in Korinte by die gelowiges onder verdenking gebring en ook ‘n ander boodskap verkondig as die evangelie wat Paulus verkondig het. Paulus sê dat hy bang is dat, soos die slang vir Eva met sy geslepenheid mislei het, die gelowiges in Korinte se gedagtes dalk ook bederf kon raak (vgl. 11:3).

As ‘n mens op die woorde let wat Paulus gebruik (bv. “wapens” en “vestings”) is dit duidelik dat Paulus dit wat besig was om te gebeur, as ‘n oorlog beskou het. Hy verwys in die gedeelte ook na drie fases in die destydse oorlogvoering: i) die vyand se vestings word eerste aangeval en afgebreek (10:4b-5a), ii) die inwoners word tweedens gevange geneem (10:5b) en iii) die mense wat steeds weerstand bied, word gestraf (10:6). Wanneer mense in hulle denke verlei is, moet daar oorlog verklaar word.

‘n Oorlog met goddelike wapens.
Hierdie oorlog word met spesifieke wapens gevoer. Die wapens is nie menslike wapens nie. Dit is wapens wat deur mense verag word, maar wat deur die Bose gevrees word. Hierdie wapens, kan ons aflei, is die wapens wat in Efesiërs 6 genoem word, naamlik die waarheid, regverdigheid, uitdra van die evangelie, geloof, genade-redding, die Woord as swaard van die Gees en gebed. Dit is in besonder die verkondiging van Jesus Christus as die Gekruisigde, as die Oorwinnaar oor die dood. Probeer ek nie met verkeerde (menslike) wapens veg nie? Is ek vertroud met die góddelike wapens? Gebruik ek hierdie wapens wanneer ek te doen het met mense wat in hulle denke verlei is?

‘n Oorlog wat gaan om die denke van mense.
Omdat mense in hulle denke verlei word, is die oorlog wat in ons gelese gedeelte ter sprake is, gerig op die denke van mense. Soos in die oorlog van destyds, word daar in die eerste fase van die oorlog gekonsentreer op die afbreek van vestings. Soos mense destyds vir hulle vestings (bv. mure om ‘n stad of torings) gebou het waarin hulle kon vlug wanneer die vyand hulle aanval, bou mense ook vir hulle vestings in hulle denke. Hierdie vestings word in vers 4 “redenasies” genoem. Mense werk in hulle denke vir hulle in besonderhede en met verskeie “bewyse” uit hoekom hulle oortuig is van hulle standpunte. Die goddelike wapens tot beskikking van gelowiges kan hierdie vestings en skanse afbreek. Omdat die skanse wat mense oprig, “kennis van God” nie in hulle lewe wil toelaat nie (vgl. 10:5), is dit waarop ons ons aandag in die aanval op mense se vestings moet konsentreer. Dring met die evangelie tot binne die mense se denke!

In hierdie oorlog is die tweede fase gevangeneming (10:5). Nou is dit nie mense wat gevange geneem word nie, maar gedagtes. Hierdie gevangeneming is ook iets besonders. Dit gaan daaroor dat ek met die goddelike wapens mense sal lei tot gehoorsaamheid – nie gehoorsaamheid aan ‘n ander volk nie, nie aan mense, nie aan reëls nie, maar aan die ware Verlosser, Jesus Christus.

Die laaste fase van hierdie oorlogvoering is uitoefening van straf (10: 6). Nou, anders as in gewone oorlogvoering, is dit straf omdat ek omgee, straf in liefde en straf wat lei tot heiligmaking en gehoorsaamheid aan die Verlosser. Ware liefdeloosheid is juis wanneer ek nie genoeg omgee om hierdie soort straf uit te deel nie.