DIE EVANGELIE VAN JESUS CHRISTUS
Lees 1 Timoteus 1:12-20
1. Die kern van die evangelie
Die kern van die evangelie is Jesus Christus. Alles begin by Hom. Die kern is niks en niemand anders as Hom nie. Paulus beskryf sy dankbaarheid teenoor die Here wat hom deur Christus in die diens geneem het. Dit is net genade. In die verlede het Paulus Christus belaster, vervolg en beledig. Hy is diep in die skuld voor God. Dit oortref die Here met oorvloedige genade. Paulus word met geloof en liefde oorlaai.
2. Die doel van die evangelie
Wat is die doel van die evangelie? Jesus se doel op die aarde maak Hy self aan ons bekend: Ek het nie gekom om regverdiges te red nie, maar sondaars. Sy benadering van die mensewêreld was ‘n aktiewe soektog na wetsoortreders. Nie om hulle te straf nie, maar om hulle tot bekering te roep en te red. Hierin deel Paulus. Hy noem homself die eerste. Hy neem ‘n voorbeeld funksie aan. Hy is die prototipe van God se genade. ‘n Prominente sondaar en vyand van Christus word gelowig. Hy word gered deur Jesus Christus.
3. Die eenvoud van die evangelie
Vandag hoor ons hierdie woord. Elkeen van ons doen elke dag sonde. Daarom bemoedig die Here ons om die goeie stryd te stry. Die genade van die Here oorvloei ons ook. Met Hom voor oë gaan ons die stryd met die sonde aan. Jy moet met die sonde breek. In elk geval bring sonde geen vreugde en vrede nie. Ons Here Jesus sê: Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop.