DIE GESAG VAN DIE HEILIGE SKRIF
Lees: Nehemia 8 Belydenis: NGB Artikel 5 Teks: Nehemia 8:9,10
1. Die bron van die gesag
Die Woord het gesag want dit kom van God af. Dit is nie iets wat deur mense gemaak is nie. Inteendeel ons ontvang dit. Ons maak dit nie, ons kry dit. Die bron van die gesag is God self. Ons Here Jesus het dit bevestig toe Hy hier op die aarde was. Vir Hom was die Ou Testament sonder twyfel die Woord van God. Hy het dit van harte geken. So gereeld het Hy daaruit aangehaal. Aan die kruis hoor ons die woorde uit die Psalms.
2. Die werking van die gesag
Watter gesag het die Woord vir ons vandag? Wat doen jy as gelowige kind van die Here met sy Woord? In ons tyd waar die individu op die voorgrond staan wil elkeen dit meestal op sy eie manier doen. Jy wil nie voorgeskryf word nie. Dit geld ook baie keer as dit by geloofsake kom – nee, ek glo op my manier. Maar so werk dit nie. ‘n Gelowige kind van die Here doen dit nie op sy manier nie, maar op God se manier. Hy buig voor die stem van die Here. Hy gee sy eie wil prys. Dit is die uitwerking van die gesag. Presies dit gebeur in Nehemia 8.
3. Die bevestiging van die gesag
Die gesag word vanuit drie hoeke bevestig. Eerstens deur die kerk van alle eeue. Tweedens deur die Heilige Gees. Buiten dat Hy die Outeur van die Woord is, bevestig Hy dit ook in die harte van die gelowiges dat die Woord van God is. Derdens word die Skrif in homself bevestig. Selfs die Blinde kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind.