Skriflesing: 1 Timotheus 3 Teks: Efesiërs 4:11-16
JESUS CHRISTUS REGEER SY KERK
1. Die instelling van die amp
Die Insteller van die amp is Jesus Christus. Die kerk behoort aan Hom. Dit is syne. Ons het hier met ‘n teokrasie en ‘n monargie te make. Die kerk word nie deur mense geregeer nie. Jesus Christus regeer oor sy kerk. Hy doen dit konkreet deur mense te roep om in sy diens te staan. Deur die loop van die Bybel sien ons dat die Here so te werk gaan. By die laaste gemeentes sien ons dat die Here Ouderlinge en Diakens gebruik.
2. Die vereistes aan die amp
In 1 Timotheus lees ons die vereistes wat aan die ampsdraers gestel word. Dit is opvallend dat daar vereis word dat die ampsdraers volwasse in die geloof moet wees. Hulle moet goed gegrond wees in die Christelike geloof. Hulle moet onberispelik en waardig wees. Aan die vereistes behoort elke gelowige te voldoen.
3. Die doel van die amp
In Efesiërs 4 hoor ons die doel van die amp. Die ampsdraers se opdrag is “om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk en om die liggaam van Christus op te bou.” (Efesiërs 4:12) Die gemeente is die liggaam van Christus. Hy is die Hoof. Efesiërs 4:16 sê dat die liggaam homself opbou in liefde. Dit is die ampsdraers se werk om toe te sien dat die kudde se oë altyddeur gerig is op Jesus Christus.