Skip to content
Menu

Lees: Johannes19:25-27; 1 Timotheus 5:1-16

IN DIE OOG, IN DIE HART

In Johannes 19 hoor ons die derde kruiswoord van ons Here Jesus Christus. Hy sien sy moeder, Maria, raak. Tussen die ander vroue en vriende wat daar by Golgota aanwesig is, praat Hy met haar. Hy sê vir haar: “Vrou, kyk, daar is u seun!” En daarna sê Hy vir Johannes sy geliefde dissipel: “Kyk daar is jou moeder!”

OOG VIR DIE MOEDER

By die kruis van Jesus staan vier vrouens. Tussen die vier staan ons Here Jesus se ma. Ongeag haar leeftyd is sy ‘n gebreekte vrou. Verdriet maak iemand baie vinnig oud. Ons lees nie dat haar man Josef daar is nie. Die laaste keer wat die Bybel hom noem is toe Jesus 12 jaar oud was en hulle vir die Paasfees Jerusalem toe gegaan het. Maria is dus waarskynlik ‘n weduwee. Alleen dra sy die geheim van haar maagdelike geboorte. In die tyd was die oudste seun baie belangrik vir ‘n weduwee. In Lukas 7 word dit beklemtoon. In die dorp Nain was daar ‘n weduwee wat haar oudste en enigste seun verloor het. Toe die Here Jesus haar sien, het Hy haar innig jammer gekry en vir haar gesê: “Moenie huil nie”. Aan die kruis sien Jesus die hartseer van sy moeder raak. Hy eer haar deur sy optrede. Haar taak is nou klaar. Jesus neem afstand van sy bloed moeder. Om sy las te kan dra moet Hy deur alle mense en ook deur God verlaat word. Daarom spreek Hy haar nie meer aan as moeder nie, maar as vrou.

OOG VIR DIE VROU

Tydens sy eerste wonder by Kana het Jesus sy moeder ook so aangespreek. In Johannes 2:4 sê Hy vir haar – “Vrou, waarom pla u My? My uur het nog nie aangebreek nie.” Die woord ‘vrou’ wat Hy hier gebruik word, is nie neerbuigend nie, maar respekvol. Daar het Jesus afstand geneem en vir Maria haar plek aangetoon. Dit doen Jesus nou ook. Hy is nie meer haar ‘seun’ nie. Hy is nou nie meer gebind aan sy familie op die aarde nie, Hy is nou daar vir sy gemeente. Vir die geloofsfamilie. Daarom noem Hy haar vrou. Haar taak is voltooi. Sy is nou deel van die vrouens in die geloofsfamilie. Maar Maria word nie alleen gelos nie. In die geloofsfamilie word daar gesorg. Johannes word aangewys – “Kyk daar is jou moeder!” Die woorde van Jesus uit Markus 3 mag ons nooit vergeet nie – “Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.”

OOG VIR MEKAAR

“Kyk daar is jou moeder!” Sien haar as jou eie ma. Hiermee breek ons die teks van 1 Timotheus 5 oop. In die gedeelte lees ons van die kerk as huisgesin. Al ons onderlinge verhoudings word geken deur ‘n diep geestelike verbondenheid. Timotheus wat self jonk is, moet die ouer mense benader asof hulle sy vader en moeder is. Leeftydsgenote moet hy sien as broers en susters. So sien ons mekaar raak as een in Jesus Christus. So ervaar ons die krag van sy liefde.

GESPREKSPUNTE

1. Hoe ken jy vir Jesus as ‘n Persoon wat in jou lewe betrokke is?

2. Hoe word jy deur die Here gevorm? Hoe is jy betrokke binne die geloofsfamilie?

3. Hoeveel aandag het jy vir die mense om jou heen? Het jy tyd vir jou broeders en jou susters in die geloof?

4. Hoe kan jy jou medegelowiges ondersteun in die uitdagende tye wat ons leef?