Lees: Romeine 8:18-30; NGB Artikel 13
GOD VOORSIEN
Ek is oortuig. Ons hoor die woorde van die apostel
Paulus. ‘n Man wat se werk was om die evangelie van
Jesus Christus te verkondig. Hy is oortuig dat die lyding
van nou nie vergelyk kan word met die heerlikheid wat
kom nie. Dit is werklik iets om na uit te sien. Die mooiste
moet nog kom. Daarvan is kinders van God oortuig. Met
vurige verlange wag die skepping daarop. Die lyding van
die huidige tyd bring ons vanaand by die voorsienigheid
van God.
GOD VOORSIEN DEUR JESUS CHRISTUS
Die skepping is in nood. Wat het die wêreld nodig?
Geleerde wetenskaplikes, deskundige dokters,
verstandige owerhede, verantwoordelike mense? Die
Here voorsien deur hierdie mense. Hulle gee egter net
tydelike antwoorde. Vir die nood van die skepping is iets
anders nodig. Iemand anders: Jesus Christus. Paulus
skryf: Die skepping hoop om self vrygemaak te word van
verslawing aan die verganklikheid, en so die vryheid te
smaak wat die heerlikheid van God se kinders sal
kenmerk. Dit sal gebeur as die kinders van God openlik
bekend gemaak sal word. Die skepping wag vir die
oomblik. Die oomblik van die verlossing. Die oomblik
van die Verlosser – Jesus Christus.
VIR ‘N SKEPPING IN NOOD
Die aarde raak uitgeput. Die mensdom gaan
hoogmoedig te werk. Die grondstowwe word
opgebruik. Die aarde is geïrriteerd. Kyk maar net na die
veldbrande in Australië, die uitsterwing van plante en
diere, die droogte in ons land, die uitbreek van die
Corona-pandemie. Paulus skryf dat die skepping aan ‘n
sinlose bestaan onderwerp is. Die ganse skepping sug, dit
verkeer in geboortepyn. Hy skryf asof die skepping ‘n
persoon is. Die skepping sug en ly. Daar is sprake van
sinloosheid en verganklikheid. Herkenbare woorde in ons
dae! Dit spoel nou oor die hele wêreld heen. Wat nou
gebeur en wat nog kan gebeur is angswekkend. Die lyding
raak ons. Dit raak ons almal – die skepping sug. God
voorsien. Niks kom per toeval oor ons nie. Alles gebeur
deur die beskikking van ons hemelse Vader.
VIR DIE KINDERS VAN DIE HERE
Die skepping wag dat ‘die kinders van God openlik
bekend gemaak sal word.’ Hierin laat God iets sien oor
onsself. Waarom is ‘n kind van God belangrik vir die
skepping in nood. Waarin is my geloof in Jesus Christus
belangrik vir die wêreld? As kind van God is jy ‘n priester
in die wêreld. As priester kyk jy nie weg vir die lyding nie.
Jy kyk dit in die oë en jy hanteer dit. Jy leef mee, is
betrokke, bied hulp aan en is betrokke. Vervolgens bring
jy die nood in gebed by God. ‘n Priester bid, lag, huil, help
en seën. In alles word hy gelei deur Jesus Christus. Jesus
Christus het vir ons gekom. Nou staan ons as sy priesters
op die aarde. Die wêreld het ons nodig. Wat die skepping
nodig het is verlossing van lyding. Wat ons wêreld nodig
het is kinders van God. Wat jy nodig het om kind van God
te wees, is God se liefde in Jesus Christus.
GESPREKSPUNTE
- Hoe ervaar jy die voorsienigheid van God in jou
lewe? - Waar kan jy in hierdie tyd van inperkings jou
priesterskap konkreet uitleef?